Oorbrug die gaping: Bevorder samewerking tussen die akademie en staatsdiens

Die Skool vir Owerheidstudies in die Fakulteit Geesteswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het op Dinsdag 3 Oktober ’n openbare seminaar gehou.

Die primêre doel van die seminaar was om die gaping tussen die akademie en die praktyk te oorbrug, met ’n bepaalde klem op die rol van die Skool vir Owerheidstudies.

Gebeurtenisse van hierdie aard help die universiteit om met sy belanghebbers in die regering te skakel.

Benewens dat gegradueerdes van vaardighede voorsien word wat vir beide die praktyk en die akademie van toepassing is, word goeie samewerking tussen universiteite en die openbare sektor bevorder, wat die staat se kapasiteit kan verhoog en staatsbeleidsprosesse kan verbeter.

Prof Jefferey Mphahlele, adjunk-visekanselier vir navorsing en innovasie, het vir prof Robert Nkuna met sy aanstelling as buitengewone professor van praktyk by die Skool vir Owerheidstudies gelukgewens. Benewens hierdie posisie is hy ook direkteur-generaal van die Departement Beplanning, Monitering en Evaluering.

“Ons kan deur hierdie verhouding bespreek hoe ons die hulpbronne gaan gebruik wat ons as ’n universiteit beskikbaar het om die ontwikkeling van die volgende geslag leiers aan te moedig – leiers wat ’n positiewe bydrae op die gebied van die akademie, die regering en die burgerlike samelewing sal lewer.

“Om vir die kapasiteit van die staat tot voordeel te wees, moet die akademie ’n bydrae tot die implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) lewer deur uitmuntende navorsers te skep. Samewerking met die skole vir regeerkunde is belangrik. Die akademie moet geïntegreer word en met die openbare sektor saamwerk en kommunikeer,” verduidelik prof Nkuna.

Onder die respondente was prof Mashupye Maserumule, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) en kommissaris by die Nasionale Beplanningskommissie (NBK). Prof Busani Ngcaweni, wat die hoof van die Nasionale Regeringskool (NSG) is, was die ander respondent.

Prof Busani Ngcaweni sê om vakkundiges nader aan openbare instellings te bring, sal hulle help om die gapings te identifiseer oor die manier waarop individue bereid is om in die openbare sektor leiding te neem. “Ek doen ’n beroep op die NWU om die NSG te help om politiek te verpersoonlik benewens om aan hulle te kwalifikasies te gee.

Prof Kedibone Phago, direkteur van die Skool vir Owerheidstudies by die NWU, het die bedankings gedoen. Hy sê dit was die begin van ’n goeie inisiatief, en die universiteit het na hierdie reis uitgesien.

Dit is ’n rare geleentheid om senior regeringsamptenare te kry om hulle tyd en vaardighede beskikbaar te stel om by gefokusde en waardevolle gesprekke met akademici en studente betrokke te wees. Hierdie soort samewerking help universiteite om innoverende gegradueerdes te lewer wat met die jongste kennis toegerus is.

Van links is prof Kedibone Phago, dr Christa de Wet (programdirekteur), prof Robert Nkuna en prof Jeffery Mphahlele.

Submitted on Tue, 10/10/2023 - 11:27