Oorbrug die digitale gaping een township op ’n keer

As die jongste HUB nóg van Projek Isizwe[HC1] , die innoverende niewinsgewende organisasie (NWO) agter Afrika se suksesvolste gratis Wi-Fi-netwerk, rig Dudu Mkhwanazi (26) haar visier daarop om die digitale gaping in Suid-Afrika te oorbrug. Meer nog, sy raai alle Suid-Afrikaners aan om na vore te kom en hulle deel te doen om internettoegang aan lae-inkomste-gemeenskappe te verhoog.

Sedert Dudu se aanstelling as HUB in Augustus 2017 het hierdie dinamiese alumna van die Noordwes-Universiteit (NWU) ywerig voorspraak gemaak dat internettoegang as basiese mensereg beskou word, net soos water en elektrisiteit. Sy het meer onlangs ’n sakeseminaar op die gewilde TEDx-platform in Johannesburg gelewer. Die TEDx-franchise verteenwoordig ’n internasionale platform vanwaar innoverende idees gevier en met die wêreld gedeel word, en nuwe idees en kreatiewe denke daardeur uitgebrei word.

Tydens die seminaar [HC2]  het Dudu gesê dat deur internettoegang as basiese mensereg te beskou, sal die Suid-Afrikaanse regering baie meer bereik as om bloot baanbrekerwetgewing in te stel. Sy meen dat die internet gebruik behoort te word as ’n bemagtigingsinstrument wat ekonomiese sowel as maatskaplike voordele sal inhou.

Sy het navorsing aangehaal wat deur die Wêreldbank gedoen is en wat aandui dat daar vir elke 10% breëbandinfiltrasie ’n groei van 1,3% van ’n land se bruto binnelandse produk (BBP) aangeteken word. “Dit word duidelik, veral in die Suid-Afrikaanse konteks, dat deur internettoegang te subsidieer, die staat ’n beduidende opbrengs op belegging sal verkry,” sê Dudu, en verduidelik dat die waarde van kernpunte van gratis internet binne stapafstand in sy eenvoudigste vorm beskou kan word as soortgelyk aan ’n gemeenskaplike kraan – almal trek voordeel daaruit.

Hoewel gratis internettoegang ’n langtermyndoelwit is, moedig Dudu alle Suid-Afrikaners aan om hulle deel by te dra om die digitale gaping te help oorbrug. Sy noem die volgende intervensies as “vinnige winste” in die poging om mede-Suid-Afrikaners te help om met digitale media vertroud te raak:

  • Deel jou Wi-Fi-wagwoord met jou huishulp. Al hoe meer regeringsdepartemente, soos die Onderwysdepartement, vereis dat ouers hulle kinders aanlyn registreer, en sonder internettoegang kan hierdie eenvoudige taak baie uitdagend wees.
  • Hou ’n dongel in jou handsak en help iemand om ’n vinnige e-pos te stuur of aanlyn aansoek te doen om hulle studies te bevorder.
  • As jy met die internet vertroud is, besoek ’n plaaslike skool en help die onderwysers om inligting te soek en te deel. Daardie onderwysers sal hierdie vaardighede dan weer aan hulle leerders oordra en sodoende hulle eie professionele vaardighede uitbrei.

“Die gesprek moet uiteindelik nie oor goedkoper data gaan nie, maar oor die volhoubaarheid en haalbaarheid van Wi-Fi-projekte,” sê Dudu.

* Dudu is ’n alumna van die NWU en het van 2009 tot 2012 aan die kampus in Vanderbijlpark studeer, waartydens sy ’n BA en BAHons in Politieke Wetenskap behaal het. Sy het ’n aktiewe studentelewe geniet en vir 2012/2013 op die Kampus Verteenwoordigende Studenteraad (KVSR) in die portefeulje: Grondwet en Verenigingsbeampte gedien. As sterk akademikus het sy ook by die vakgroepe Politieke Wetenskap en Omgewingsgeskiedenis as tutor opgetree.

Sy het ook oor ’n meestersgraad in Openbarebeleidsontleding aan die Université Montpellier in Frankryk verwerf.

 
 


Dudu Mkhwanazi, alumna van die Noordwes-Universiteit.

Submitted on Thu, 02/01/2018 - 12:38