Onveranderde rentekoerse is in ooreenstemming met verwagtings

“Die besluit deur die Monetêre Beleidskomitee (MBK) van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) om die rentekoerse onveranderd te laat, is wyd voorsien en is in ooreenstemming met markverwagtings.”

Prof Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool sê dat, hoewel die MBK in die afgelope paar maande 3 teen 2 ten gunste van “geen verandering” gestem het – in teenstelling met nog ’n verlaging van 25 basispunte – die uitkoms van die jongste MBK-vergadering ’n eenparige besluit was.

“Dit weerspieël die SARB se jongste evaluering van die balans van risiko’s wat die Suid-Afrikaanse ekonomie in die gesig staar waarin inflasie in besonder onder beheer bly, maar waarin skerp stygende geadministreerde pryse steeds koste-inflasie vererger.”

Hy sê dat die MBK-aankondiging bevestig dat beide wêreldwye en plaaslike faktore tans ’n sterk “herstel” in die Suid-Afrikaanse ekonomie hierdie jaar aandryf. “Die feit dat die MBK sy groeivoorspelling van die bruto binnelandse produk (BBP) vir 2021 vanaf 3,6% tot 3,8% opgestoot het, is positief en resoneer met die hersiene verbeterde groeiverwagtings van ander gesaghebbende bronne.”

Volgens prof Parsons was die MBK nietemin reg om te beklemtoon dat beurtkrag en die uiters onseker elektrisiteitsvoorsiening die Suid-Afrikaanse ekonomiese prestasie baie skade berokken. Hy waarsku ook dat nuwe golwe van Covid-19 die groeivooruitsig sal knou.

“Die MBK-verklaring onderneem om ‘tydelike prysskokke deur te kyk’.” Prof Parsons sê dit is steeds nodig dat rentekoerse vir so lank as moontlik laag moet bly.

“Saketoestande is moeilik en stabiliteit in leenkoste moet vir eers ondersteunend bly. Die negatiewe risiko’s vir groei kan groter wees en opwaartse risiko’s vir inflasie kan minder wees as wat die SARB se ontleding beweer, veral in die lig van swak vraagtoestande en steeds lae vlakke van sake- en verbruikersvertroue.”

Volgens prof Parsons herinner die MBK-aankondiging ons daaraan dat Suid-Afrika nog ’n ver pad het om te loop om die nasionale uitset en indiensneming tot by voorpandemiese vlakke te kry, en dat ’n mens in gedagte moet hou dat die ekonomie alreeds in ’n resessie was selfs voordat Covid-19 die land ’n jaar gelede getref het.

“Die verbeterde korttermynvooruitsig is dus dat Suid-Afrika nou in die tydperk wat voorlê in ’n meer volhoubare gebied van arbeidsryke groei moet inbeweeg deur stelselmatig toepaslike strukturele hervormings te implementeer.”

 

Submitted on Fri, 03/26/2021 - 09:41