’n Navorser by die Skool vir Kommunikasie by die Noordwes-Universiteit (NWU), dr Quatro Mgogo, het ’n studie onderneem om te ondersoek hoe Facebook-emoji’s aangewend word om die betekenis van izaci namaqhalo esiXhosa (Xhosa-spreekwoorde en -idiome) te vorm.
Die studie het ook ondersoek hoe Xhosa-sprekende Facebook-gebruikers emoji’s benut om nuwe lewe in Xhosa-uitdrukkings te blaas. Hierdie studie, wat diep in interpretatiewe navorsingsfilosofie gewortel is, wil die kulturele waardes van die Xhosa-gemeenskap deur middel van hulle gebruik van emoji’s in digitale kommunikasie dekodeer.
Die doel van die studie was om te verstaan hoe emoji’s gebruik word om betekenis te kommunikeer en binne hierdie inheemse taal uit te druk.
Dr Mgogo sê die studie het bevind dat Xhosasprekende gebruikers van sosiale media Facebook-emoji’s op ’n vindingryke manier aangepas het om tradisionele Xhosa-spreekwoorde en -idiome op ’n nuwe wyse te gebruik.
“Hierdie kreatiewe aanpassing weerspieël die dinamiese aard van taal en kultuur in die digitale era. Die navorsing het getoon dat, benewens om die bestaande idiomatiese uitdrukkings te herinterpreteer, hierdie emoji’s gebruik word om heeltemal nuwe betekenisse vir Xhosa-uitdrukkings te skep. Hierdie innovasie beklemtoon die aanpasbaarheid van inheemse tale in die lig van die ontwikkelende kommunikasietegnologieë,” sê hy.
“Die studie het voorts die visuele element van emoji’s uitgelig, wat Xhosa-sprekers in staat gestel het om Xhosa-spreekwoorde en -idiome op heeltemal nuwe maniere saam te stel en oor te dra. Hierdie visuele herinterpretasie voeg ’n opwindende vlak by die voortgaande bespreking oor die toekoms van menslike taal, veral inheemse tale, in die tydvak van die Vierde Industriële Revolusie,” voeg dr Mgogo by.
Namate die wêreld die transformatiewe impak van tegnologie op taal en kultuur navigeer, is hierdie studie die getuienis van die veerkragtigheid en aanpasbaarheid van inheemse tale. Dit beklemtoon die belangrikheid daarvan om te ondersoek hoe digitale instrumente en platforms benut kan word om taalkundige diversiteit te bewaar, aan te pas en te bevorder.
Die implikasies van hierdie navorsing strek baie verder as Xhosa, aangesien dit ’n breër gesprek oor die ontwikkelende aard van taal in ons snelveranderende wêreld aanmoedig. Dit dien as herinnering dat taal nie staties is nie, maar gevorm en hervorm word deur die gemeenskappe wat dit gebruik, self op digitale gebied.
In ’n wêreld waar kommunikasie toenemend deur digitale koppelvlakke oorheers word, bied hierdie studie waardevolle insigte in die manier waarop emoji’s – eers as blote versierings beskou – nou ’n deurslaggewende rol in die vorming van die toekoms van taalkundige uitdrukking en kulturele identiteit speel.