Onderwysvereniging van Suid-Afrika ken hulle eremedalje aan prof Elsa Mentz toe

’n Verandering in denke ten gunste van selfgerigte leer (SDL) kan talle van die probleme in onderwys – en moontlik ook in die werkplek – oplos. So sê die bekroonde kundige van die Noordwes-Universiteit (NWU), prof Elsa Mentz.

Die Onderwysvereniging van Suid-Afrika (OVSA) het in Januarie tydens sy jaarlikse konferensie by Sun City hulle eremedalje aan prof Mentz toegeken.

Prof Mentz is die direkteur van die NWU se Navorsingseenheid vir Selfgerigte Leer, wat volgens berigte die eerste eenheid van sy soort in die internasionale onderwysnavorsingsgemeenskap is.

Volgens die OVSA is die medalje aan prof Mentz toegeken ter erkenning van “uitmuntende diens aan onderwys deur ’n individu oor ’n volgehoue tydperk”.

’n Loopbaan wat aan onderwys gewy is

Prof Mentz het haar navorsing aan selfgerigte leer gewy en om dit in formele en informele onderwys te bevorder. “Dit is vir my baie spesiaal dat ek hierdie toekenning ontvang 50 jaar nadat die Amerikaanse baanbreker-opvoeder Macolm Knowles vir die eerste keer in 1975 selfgerigte leer gekonseptualiseer het.

“Daar is ’n geweldige korpus van literatuur oor selfgerigte leer en dit brei steeds uit. Ek is daarvan oortuig dat vele van ons probleme in die onderwys, en selfs in die werkplek, opgelos kan word indien ons almal ons ingesteldheid kan verskuif vanaf onderrig en dat ons geleer moet word, na om self iets te leer en verantwoordelikheid vir ons eie leer te aanvaar.”

Prof Elsa het met behulp van haar kollegas selfgerigte leer as ’n strategiese prioriteit vir onderrig en leer gevestig – aanvanklik spesifiek in die Fakulteit Opvoedkunde, maar later ook in die NWU as geheel.

Sy sê sy sou dit nie alleen kon doen nie, en maak spesiaal melding van prof Lloyd Conley, die uitvoerende dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, haar kollegas by die Navorsingseenheid vir Selfgerigte Leer en haar internasionale kollegas.

“Dit is verblydend en inspirerend om by internasionale medewerkers te hoor dat die Eenheid vir Selfgerigte Leer aan die NWU die enigste een van sy soort ter wêreld is.”

Prof Elsa weet dat die impak van haar werk sal voortgaan. “My navorsing oor selfgerigte leer is baie groter as ekself en dit sal voortgaan lank nadat ek uitgetree het. Ek glo dat dit die toekoms van onderwys is, en ek beskou myself as ’n klein bydraer tot die vakkundigheid daarvan.”

Dit is nie die eerste erkenning wat prof Elsa vir haar werk op hierdie gebied ontvang het nie. Haar toewyding en kundigheid het ook in November verlede jaar tydens die 7de Internasionale Konferensie vir Selfgerigte Leer vir haar die toekenning vir ’n lewensbydrae tot die bevordering van selfgerigte leer in praktyk, teorie en navorsing (Lifelong Contribution in Promoting Self-Directed Learning in Praxis, Theory and Research Award) besorg.

In Januarie 2020 het sy ook internasionale erkenning vir haar navorsing ontvang toe sy die Malcolm Knowles-toekenning van die Internasionale Vereniging vir Selfgerigte Leer in Florida in die VSA

ontvang het. Dit was die eerste keer dat die ontvanger van buite die VSA of Europa was. Dit word toegeken aan diegene wat betekenisvolle lewenslange bydraes op die gebied van SDL gemaak het.

In haar kommentaar oor haar onlangse OVSA-toekenning sê prof Mentz: “Ek voel geëerd om die ontvanger van hierdie toekenning te wees en ek waardeer dit werklik. Dit is ’n wonderlike eer om toekennings te ontvang en ek gee aan God al die eer.”

1

Prof Elsa Mentz het haar eremedalje van die OVSA opgedra aan haar man, prof Kobus Mentz, vir sy ondersteuning, aanmoediging en begrip deur die jare. “Ek is baie gelukkig om ’n man te hê wat ook in die akademie is en begrip het vir die lang ure, die uitdagings en die tyd wat ek van die huis af weg is.”

Submitted on Wed, 02/19/2025 - 14:50