Ondersteuning en leiding van die NWU-gemeenskap maak graderingsreis makliker

Die vakgroep Inligtingstelsels aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het in prof Joshua Chukwuere sy eerste Y2-gegradeerde van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) gekry.

Hy is in inligtingstelsels, en spesifiek in ontluikende en digitale tegnologieë, aan die NWU opgelei. Prof Chukwuere is ’n medeprofessor in die navorsingsfokusarea bekend as Ontluikende Tegnologieë/Digitale Tegnologieë in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (FEMS).

“Ontluikende en digitale tegnologieë is die kritieke pilaar in die bou van ’n maatskaplike en menslike ekonomie wat ’n groot impak op elke sektor van die samelewing het. Die wêreld maak toenemend staat op die rol en impak van ontluikende en digitale tegnologieë om alles orals te kan fasiliteer,” sê prof Chukwuere.

“Ek is baie bly en dankbaar dat ek op ’n akademiese wyse kan bydra om die rol en belangrikheid van ontluikende en digitale tegnologieë te ondersoek om deur akademiese navorsingsbevindings vir doeltreffende besluitneming ’n beter Suid-Afrikaanse samelewing te bou en te ontwikkel

Vordering met die graderings

Prof Chukwuere is die eerste persoon in die vakgroep Inligtingstelsels om ’n NNS-gradering te ontvang.

Hy sê die graderingsreis was nie maklik nie, maar hy kon dit met die ondersteuning van die NWU bereik.

“Die graderingsreis het begin met my besoek aan prof Collins Njie Ateba, wat ook ’n NNS-gegradeerde vakkundige in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe op die Mahikengkampus is. Die besoek aan sy kantoor het aan my die regte inligting en motivering verskaf om aansoek te doen.

“Die NNS-graderingsproses het my vakkundige motivering en idees verander om deurlopend aan hoëgehaltenavorsing te werk. Ek ondersteun die graderingsproses ten volle, aangesien dit jou dwing om in jou navorsingsnisarea gefokus te bly. Dit is belangrik dat die NWU die ondersteuning verskaf om elke vakkundige in staat te stel om vir ’n NNS-gradering voor te berei.”

Prof Chukwuere sê die ondersteuning van sy vrou, Goodness, en sy broer, dr Precious Chukwuere, het ook ’n groot verskil in sy akademiese en graderingsreis gemaak.
“Elke vakkundige binne FEMS kan met harde werk, toewyding en genade van die Here ’n gradering ontvang. Ek is nie so spesiaal dat ek die enigste een moet wees nie.”

Meer oor die navorser

Prof Chukwuere het in 2006 sy akademiese reis as student aan die NWU begin en hy het later as ’n vrywillige dosent by sy vakgroep aangesluit. Sy toewyding, harde werk in navorsing en ’n passie vir onderrig en leer het vrugte gedra toe hy ’n permanente lid van die personeel geword het. Hy het geleidelik sy pad na bo op die leer geklim tot by die posisie van medeprofessor in die vakgroep Inligtingstelsels.

Prof Chukwuere sê dat hy sedert sy tyd as student dit geniet om te werk en met ander studente om te gaan, wat hom met sy navorsing en die onderrig- en leerproses help.

Hy is ’n bekroonde navorser en is op verskeie komitees by die universiteit bedrywig. Hy het al wyd in eweknie-beoordeelde vaktydskrifte gepubliseer, en bydraes by konferensies en boekhoofstukke gelewer. Prof Chukwuere het ook verskeie akademiese boeke geredigeer en is die konvenor van die Internasionale Konferensie oor Ontluikende Tegnologie en Interdissiplinêre Wetenskappe.

“Ek voel baie nederig en dankbaar teenoor God Almagtig,” sê prof Chukwuere wanneer hy oor sy Y2-gradering praat.

Submitted on Fri, 04/28/2023 - 11:03