President Cyril Ramaphosa se plan om die uitgerekte elektrisiteitskrisis in Suid-Afrika op te los, kan die keerpunt wees om die land se vermoë te bevorder om met groter sukses sy energie-uitdagings die hoof te bied.
Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê die president se belangrike aankondiging het die omvang erken van die ernstige ekonomiese skade wat beurtkrag en die gebrek aan kragsekerheid aan Suid-Afrika aangerig het. Beurtkrag en die gebrek aan kragsekerheid het die grootste enkele bedreiging vir die land se ekonomiese prestasie geword, en vereis dringend verdere aandag.
“As dit behoorlik en spoedig geïmplementeer word, kan die jongste omvattende plan van aksie om Suid-Afrika se chroniese elektrisiteitskrisis te hanteer, nou die keerpunt wees in die land se vermoë om sy energie-uitdagings meer suksesvol die hoof te bied. Dit het nou uiters noodsaaklik geword vir belegging en arbeidsryke groei in die ekonomie.”
Volgens prof Parsons bly dit noodsaaklik dat die dringendheid wat op 25 Julie in president Ramaphosa se aankondiging oorgedra is, nou doeltreffende samewerking op alle vlakke kry om die nodige uitkomste te bereik.
“Die amptelike voornemens, soos om die rompslomp te verminder en besluitneming te bespoedig, om beskikbare ervare tegniese vaardighede te werf, en om die privaat sektor op ’n baie groter skaal te mobiliseer, is alles noodsaaklike stappe wat die sleutelbelanghebbers nou moet neem. Dit sou wel nuttig gewees het indien ’n meer spesifieke tydsraamwerk vir sekere projekte en uitkomste in die jongste plan uiteengesit is.”
Prof Parsons sê ’n gestabiliseerde Eskom met die nodige kapasiteit bly vanselfsprekend ’n sleutelrolspeler in die plaaslike energiemark. “Om die ‘elektrisiteitsgaping’ in Suid-Afrika op ’n volhoubare basis te oorbrug, vereis dat die ekonomie sy afhanklikheid van die Eskom-monopolie verminder. Die deelname van die sakesektor in die insluiting van individuele pogings op ’n baie groter skaal is in ooreenstemming met die beste wêreldwye praktyk.”
Volgens prof Parsons voldoen die huidige plan nog steeds nie aan die vorige verbintenis dat 30% van die elektrisiteitsnetwerk uiteindelik in die privaat sektor moet lê nie. Dit word verwelkom dat die Geïntegreerde Hulpbronplan nou hersien en bygewerk gaan word om nuwe ontwikkelings in te sluit.
Hy sluit af deur te sê dat die jongste plan om oplossings vir die elektrisiteitskrisis in Suid-Afrika op makrovlak te bespoedig, kan help om die komende herstel in privaat vastekapitaalvorming wat in die afgelope maande duidelik geword het, te ondersteun.
“Gebrek aan sekerheid in kragvoorsiening word al lank as ’n belangrike faktor genoem in die verhindering van vinniger en volhoubare groei in privaat beleggings. Indien tasbare uitkomste uit die jongste elektrisiteitsplan spoedig na vore kom, kan dit beleggersvertroue aanmoedig op maniere wat ’n beduidende verhoging in privaat vastekapitaalvorming as ’n persentasie van groei in die bruto binnelandse produk (BBP) in die jare wat voorlê, ’n hupstoot kan gee.”