In teenstelling met die konsensussiening van talle ekonome dat die repokoers op 30 Maart met slegs 25 basispunte (bsp) verhoog sou word, het die Monetêrebeleidskomitee (MBK) van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) met ’n 3:2-stemming besluit om die rentekoers weer eens met 50 bsp te verhoog.
In sy kommentaar op die besluit om die repokoers te verhoog, sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, dat die meerderheidsiening van die MBK is dat daar ’n risiko is dat inflasie besig is om te styg – ’n gevolg van binnelandse sowel as wêreldfaktore.
“Met die stryd teen inflasie wat nog nie oortuigend gewen is nie, was dit onvermydelik dat die MBK vir eers sou voortgaan met die siklus om rentekoerse te verhoog. Die omvang van die verhoging in leenkoste was nietemin verrassend in die lig van dwarsstrome en onsekerhede wat die MBK self in sy verklaring erken het.”
Prof Parsons verduidelik dat, benewens die risiko’s vir die vooruitsig oor inflasie wat deur die MBK geïdentifiseer is, die komitee ook sy groeivooruitsigte vir 2023 verder van 0,3% tot 0,2% verlaag het. Die vergelyk met die onlangse groeivooruitsig van slegs 0,1% deur die Internasionale Monetêre Fonds.
“As ’n mens in gedagte hou dat die siklus van die verhoging van rentekoerse reeds in November 2021 begin het, toon hoër leenkoste nou reeds ’n uitwerking op talle sektore van die ekonomie. Nog belangriker, die kumulatiewe effek van vorige rentekoersverhogings val nou saam met ’n ekonomie wat deur talle kommentators beskou word as dat dit op die randjie van ’n moontlike “tegniese resessie” is.
Volgens hom is dit hoofsaaklik die gevolg van die elektrisiteitskrisis, wat deur die MBK se verklaring beklemtoon is.
“Dit is dus twyfelagtig of die MBK reg is om die risiko’s ten opsigte van die groeivooruitsig as ‘gebalanseerd’ te beskou, en is moontlik té optimisties. Die jongste MBK-verklaring bied geen evaluering van resessierisiko’s nie. Die persepsie dat selfs nóg hoër rentekoerse moontlik afgedwing gaan word op ’n ekonomie wat op die randjie van ’n resessie staan, is nie goed nie. Die vraag is of steeds stygende rentekoerse bevorderlik is vir die groei wat Suid-Afrika nodig het om buitelandse direkte beleggings te lok.”
Prof Parsons glo dat dit nuttig sou gewees het indien die MBK ook uitgestippel het waarom twee lede van die komitee, wat na dieselfde data gekyk het, ’n verhoging van slegs ’n 25 bsp voorgestaan het. “Dit lyk asof die risiko’s vir ’n daling in ekonomiese groei begin om in die breë met die risiko’s vir ’n styging in inflasie saam te val. Die bewyslas vir die MBK in die huidige ekonomiese omstandighede kan nie as ’n absolute sekerheid beskou word nie, en daarom bly ’n omsigtige benadering toepaslik. ’n Klein foutjie in die monetêre beleid kan ons nou duur te staan kom.”