NWU woon die bekendstelling die inisiatief vir digitale-gesondheidsinnovasie in Kenia by

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs die bekendstelling bygewoon van ’n nuwe inisiatief om digitalegesondheidsinnovasie in Afrika te bevorder. Die inisiatief is in ooreenstemming met die strategieë van die WGO en nasionale regerings regoor die wêreld wat universele toegang tot goeie, bekostigbare gesondheidsorg vir alle mense wil bevorder.

Die bekendstelling van die Grace Onyango Foundation* for Digital Health in Africa het van 17 tot 18 Oktober in Kisumu langs die Victoria-meer in Kenia plaasgevind. Haar edele Rebecca Kadaga, die eerste adjunk- eerste minister van Uganda, het ’n openingsrede gelewer tydens die galadinee wat deel van die bekendstellingskonferensie gevorm het. Dit is deur diplomate, politici, akademici, navorsers, entrepreneurs en lede van filantropiese organisasies bygewoon.

Die NWU-afvaardiging het bestaan uit Nkosinathi Tom (direkteur vir strategie in die Kantoor van die Visekanselier), prof Leenta Grobler (kundige in digitisering en digitale ekonomieë by die NWU Besigheidskool), asook verteenwoordigers van die Fakulteit Ingenieurswese en die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, prof Sam Tšoeu en Martine Vorster, en dr Janine Chantson en Hannes Malan van die Tegnologie-oordrag en Innovasie-ondersteuningskantoor van die NWU (die fasiliteerders van die projek).

Prof Sam Tšoeu van die Fakulteit Ingenieurswese sê die Grace Onyango Foundation is ’n platform vir internasionale fondsinsameling en die bevordering van samewerkende, multidissiplinêre navorsing, ontwikkeling en kommersialisering in digitalegesondheidsinnovasie tussen Afrika-universiteite en ander belanghebbers op die gebied. “As ons ’n volhoubare grootskaalse positiewe impak wil skep, moet dit ’n poging deur alle belanghebbers wees.”

“Die strategiese geleentheid om saam met ander Afrika-universiteite netwerke oor ’n onontginde tema van digitalegesondheidsinnovasie te vorm, is vir die NWU baie belangrik. Dit kan ’n groot verskil vir openbare gesondheidstelsels regoor die vasteland en wêreldwyd maak,” sê prof Leenta Grobler van die NWU Besigheidskool.

Dr Janine Chantson, hoofdirekteur van Tegnologie-oordrag en Innovasie-ondersteuning, sê die fasilitering van die gebeurtenis en die deelname van die NWU is deel van die pogings om die van die universiteit se innovasies te bevorder en ’n impak te maak. 

NWU-innoveerder steel die kollig in Kenia

Ian Thomson, ’n 27-jarige meestersgraadstudent van die Fakulteit Ingenieurswese, was op die ou end die hoofaantrekkingskrag by die geleentheid met sy navorsings- en ontwikkelingswerk oor bioniese kunsbene.

Dit was nie slegs oor sy entoesiastiese vermoë om die ingenieursaspekte doeltreffend te verduidelik nie, maar ook as gevolg van die boeiende storie van sy eie ervaring met ’n bioniese kunsbeen. Ian het op hoërskool in Pongola, KwaZulu-Natal sy been in ’n motorfietsongeluk verloor en het sedertdien talle modelle van kunsbene uitprobeer voordat hy op sy huidige model besluit het.

Hy het gevoel dat teen ’n koste van R1 miljoen vir ’n kunsbeen, dit bloot te duur vir die Afrika-mark was, en dat die werking daarvan verder verbeter kon word.

“Ek is ’n ingenieur. Ek kan nie rus totdat ek iets gedoen het om dit reg te maak nie.” Die resultaat is ’n nuut ontwerpte, goedkoper bioniese kunsbeen wat kundiges verstom laat.
Ian het groot aspirasies vir die ontwikkeling van intelligente prosteses binne die Fakulteit Ingenieurswese by die NWU. Hy werk tans nou saam met ’n groep kollegas op die gebied van meganiese, rekenaar- en elektroniese ingenieurswese. Benewens ’n potensiële vennootskap met die Jaramogi Hospitaal in Kenia om ’n goedkoop bioniese kunsbeen vir die Afrika-mark te ontwikkel, het hy ’n vennootskap met kollegas van die navorsingsentiteit Fisiese Aktiwiteit, Sport en Rekreasie (FASRek) gevorm om ’n NWU-span voor te berei om in 2024 aan die Cybathlon-kompetisie in Switserland deel te neem.

*Die Grace Onyango Foundation is vernoem na Mama Grace Onyango, die 98-jarige onderwyseres wat politikus geword het in Kenia nadat die land onafhanklikheid verkry het. Mama Grace Onyango het die bekendstelling bygewoon.

 

 
1

Ian Thomson, ’n meestersgraadstudent in ingenieurswese, voer ’n toetslopie met sy bioniese kunsbeen uit.

2

Prof Leenta Grobler van die NWU Besigheidskool is een van die direkteure van die Grace Onyango Foundation.

 

 

 
2

Die NWU-afvaardiging het ook vir prof Miriam Were, ’n produktiewe en bekroonde wetenskaplike en spesialis in openbare gesondheid van Kenia, en ’n goeie vriendin van Mama Grace Onyango, ontmoet. Sy is die voorsitter van die Raad van die Universiteit van Nairobi. Voor is prof Humphreys Were, prof Sam Tšoeu (NWU Fakulteit Ingenieurswese), prof Miriam Were, prof Leenta Grobler (NWU Besigheidskool), dr Janine Chantson (NWU TTIS) en Martine Vorster (Skool vir Farmasie, Fakulteit Gesondheidswetenskappe). Agter is Nkosinathi Tom (direkteur vir strategie in die Kantoor van die Visekanselier van die NWU), Ian Thomson (NWU Fakulteit Ingenieurswese) en Prof Khama Rogo.

 
Submitted on Thu, 11/17/2022 - 14:32