Die Noordwes-Universiteit (NWU) het tussen 9 en 11 Februarie 2022 gasheer gespeel vir die SASCOC Hoëprestasie-indaba wat by die Sports Village gehou is. SASCOC het hierdie strategiesebeplanningsessie gebruik om die prestasie van die Olimpiese en ander elitespanne van die afgelope vyf jaar in oënskou te neem, en om ’n strategiese plan vir die volgende paar Olimpiese siklusse te finaliseer. Die NWU is verteenwoordig deur die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie (CHHP); sy VK-gebaseerde vennoot, Cognacity; die Hoëprestasie-instituut; NWU Sport; die FASRek-navorsingsfokusarea (die NWU-navorsingsfokusarea Fisiese Aktiwiteit, Sport en Rekreasie), asook die NWU Sports Village. Sheldon Rostron (Direkteur: NWU Sport) het as fasiliteerder opgetree. Prof Pieter Kruger (Direkteur: CHHP) het voorleggings aan die SASCOC-afvaardiging gemaak oor internasionale beste praktyke en ’n multidissiplinêre oplossing wat bewysgebaseerde sportwetenskaplike en ondersteuningsdienste op ’n holistiese wyse aan elite-atlete, spanne en afrigters sal verskaf, en wat tot ’n optimale prestasie by die Olimpiese Spele kan lei.
Prof Daryl Balia, Adjunkvisekanselier: IT en Potchefstroomkampusbedrywighede, het die SASCOC-afvaardiging verwelkom en hulle verseker dat die NWU heeltemal in staat en meer as gewillig is om ons nasionale spanne te ondersteun en hulle te bemagtig om teen die beste atlete en spanne in die wêreld mee te ding, en Suid-Afrika trots te maak. Hy het bevestig dat die NWU ernstig is oor die skepping van ’n sorgsaamheidsetiekomgewing – en dieselfde vir ons elite-atlete sal kan doen.
“Welkom in Potch, dit is ons basis, dit is ons dorp,” het die uitvoerende burgemeester van die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit, raadslid Gaba KaQuele, gesê. “Ons is trots daarop dat ons ’n stad het wat in ’n vername deelnemer ontwikkel en ons het ’n groot belangstelling in sport. Ons waardeer werklik dat SASCOC hier is, en dat hulle met ons wil saamwerk en ook leiding op ander gebiede wil bied. Sport het baie byvoordele, van hulle is ekonomies, en ons het ’n goeie verhouding met SASCOC.
“SASCOC is ’n spesiale belanghebber in ons visie vir ons stad en dit is te danke aan hulle dat Potch as die stad, en die Noordwes-Universiteit as die plek, gekies is waar sulke belangrike strategiesessies gehou word wat ’n impak op die toekoms van ons sport sal hê.”
In sy erkenning van die uitvoerende burgemeester se besoek, het die voorsitter van SASCOC, Mnr Barry Hendricks, gesê: “Dankie vir die gasvryheid wat julle aan ons getoon het, dankie dat julle na hierdie belangrike werkswinkel toe gekom het. Aan die universiteit en die mense wat gehelp het om hierdie werkswinkel ’n werklikheid te maak, ’n groot dankie aan julle ook.
“Hierdie werkswinkel gaan daaroor dat Suid-Afrikaanse sport na die volgende vlak geneem moet word, en dit gebeur alles in julle stad. Dit is alles goeie nuus en julle is deel van die geskiedenis. Terwyl daar belanghebbers hier in hierdie universiteit teenwoordig is, het ander virtueel by ons aangesluit en het ’n groot bydrae op ons pad vorentoe in Suid-Afrikaanse sport gelewer.”
Mense wat by die SASCOC-afvaardiging by die werkswinkel ingesluit was, benewens die voorsitter, was die tweede ondervoorsitter, Debbie Alexander, en die raadslede Kim Pople en Khotso Mokoena, wat ook die voorsitter van die atletekommissie is.
Wanneer ’n mens by die indrukwekkende geriewe van die Noordwes-Universiteit rondstap, is daar oral ook aanduidings van die uitnemendheid wat deur hierdie geriewe beweeg het. Geraamde spanhemde met handtekeninge is teen die mure aangebring in die vertrek waar die SASCOC-hoëprestasie-indaba plaasgevind het, en geraamde foto’s van spelers van Spanje se 2010 FIFA-Wêreldbekerspan, wat persoonlik deur hulle onderteken is, neem ’n trotse plek in die vertrek in.
Spanje se basis tydens die 2010 Wêreldbeker was by die Noordwes-Universiteit … en hulle het die mees gesogte trofee in hierdie sport omhoog gehou.
Van agter is: : Prof Pieter Kruger, Patricia Mtshali, Kim Pople, Barry Hendriks, Gareth Brown, Khotso Mokoena, Prof Hanlie Moss en Sheldon Rostron. Van voor is: Leon Fleischer, Nozipho Jafta, Gaba kaQhele en Dr Debbie Alexander.