NWU vier uitnemendheid en waardes in aksie

Om kernwaardes uit te leef, word nie net deur die Noordwes-Universiteit (NWU) aangemoedig nie, dit word gevier. Die universiteit het op 22 Mei ’n erkenning- en toekenningseremonie aangebied om erkenning te verleen aan personeel en studente wat die gees en uitnemendheid van die NWU beliggaam.

Die NWU Media and Organisational Citizenship Behaviour (OCB) Recognition Awards, wat nou vir die derde jaar aangebied word, gee erkenning aan diegene wat as ambassadeurs van die universiteit die ekstra myl stap. Dertien buitengewone individue het by hierdie jaar se geleentheid – wat by die ANEW Resort Hunters Rest in Rustenburg gehou is – toekennings oor agt kategorieë ontvang.

Elke ontvanger het ’n trofee en ’n kontantprys gekry vir hulle bydraes om die beeld van die NWU in beide die universiteitsgemeenskap en in die breë openbare omgewing uit te bou.

Hulle is deur hulle eweknieë benoem. Medepersoneellede en voltydse studente regoor die drie NWU-kampusse het die name ingedien van diegene wat óf in die media naam gemaak het – hetsy in tradisionele publikasies of op digitale en sosiale platforms – óf wat raakgesien is waar hulle deurlopend regdeur 2024 die universiteit se waardes uitgeleef het.

Prof Bismark Tyobeka, visekanselier, het gesê die NWU vereer personeel en studente wat sorgsaamheid ’n strategie maak en wat gereeld die ekstra myl stap en glo dat om goed te doen, nie bloot optrede is nie, maar ’n kultuur.

“Van julle het julle spanne opgehef en stilweg op die agtergrond die las gedra . Ander het julle stemme, skerpsinnigheid en wysheid gebruik om die NWU-storie aan die wêreld te vertel en die universiteit se liggie – danksy julle – ’n bietjie helderder laat skyn.”

In plaas van om te sê “Dis nie my werk nie”, het hierdie helde gevra “Hoe kan ek help?”, het hy gesê. “Dit is wat dit beteken om buitengewone dinge op ’n gewone dag te doen.”

Die spesiale gasspreker by die geleentheid was Siphiwe Moyo, ’n internasionale hoofspreker, skrywer en fasiliteerder vir organisasie-ontwikkeling.

En die wenners is …

Social Media Personality (vir buitengewone bydraes tot die NWU se openbare reputasie op sosialemediaplatforms) – prof Kapil Moothi (personeellid, Fakulteit Ingenieurswese) en Okuhle Mdlamza (student).

Traditional Media Personality (vir buitengewone bydraes in tradisionele media, insluitende koerante, televisie en radio) – deur personeellede prof Lebo Gafane-Matemane (Fakulteit Gesondheidswetenskappe) en Prof Pierre-André Viviers (Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) gedeel.

Exceptional Media Coverage (vir ’n toename in mediablootstelling tydens ’n tydperk van sewe tot 14 dae) – dr Monray Edward Williams (personeellid, Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe).

Social Responsibility and Awareness Advocate (vir bydraes wat met verantwoordelikheid vir en ’n bewustheid van maatskaplike regte verband hou) – prof Sanette Brits (Fakulteit Gesondheidswetenskappe).

Die Diversity and Transformation Advocate-toekenning het aan prof Boitumelo Mmusinyane (Fakulteit Regte) gegaan.

Die NWU Silver Wings-toekenning (vir die beliggaming van die gees en karakter van die universiteit, sy kultuur en identiteit) het aan personeellede dr Kezell Klinck (Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe), Angeline Marokoane (Korporatiewe Verhoudinge en Bemarking) en Rachel Masemola (Fakulteit Opvoedkunde), en die student Thendo Lucky Nemavhandu gegaan.

Dr Monray Edward Williams en dr Kezell Klinck het ook die algehele Ambassador-toekenning gedeel.

Laastens het prof Carlos Bezuidenhout (Natuur- en Landbouwetenskappe) en Jim Molautsi (Studentelewe) die visekanselierstoekenning ontvang, ’n diskresionêre toekenning deur die visekanselier aan ’n lid van die bestuur wat ’n buitengewone bydrae tot die bereiking van die NWU se strategie en waardes gelewer het.

Om ’n video van die geleentheid te sien, besoek: https://youtube.com/live/fOib9el9JfE?feature=share

Klik hier om na fotos van die geleentheid te kyk.

1

Die ontvangers van hierdie jaar se Media and Organisational Citizenship Behaviour (OCB) Recognition Awards is van links dr Kezell Klinck, prof Kapil Moothi, prof Lebo Gafane-Matemane, Angeline Marokoane, prof Sanette Brits, Okuhle Mdlamza, Jim Molautisi, prof Carlos Bezuidenhout en Rachel Masemola. Voor is dr Monray Williams, Thendo Lucky Nemavhandu, prof Boitumelo Mmusinyane, en prof Pierre-André Viviers.

Submitted on Fri, 05/23/2025 - 07:39