NWU vier meertaligheid:Taalbewustheidsweek

Die doel van Taalbewustheidsweek (TBW) by die Noordwes-Universiteit (NWU) hierdie jaar is om meertaligheid te vier. TBW 2021 word deur die Fakulteit Opvoedkunde in samewerking met die Taaldirektoraat gekoördineer en sal vanaf 13 tot 17 September aanlyn plaasvind.

Daaglikse programme begin met ’n kort video en/of oudio-opname ter viering van die verskillende tale wat regoor die kampusse van die NWU verteenwoordig word. Studente en personeel word uitgenooi om ’n bydrae te lewer en vir die heerlike prys van R1 000 mee te ding.

Prof Maryna Reyneke, Adjunkdekaan: Onderrig en Leer by die Fakulteit Opvoedkunde, sê ’n hoogtepunt van die program is die vertoning van dosente se werk met die implementering van meertalige pedagogieë om studente se epistemiese toegang en akademiese sukses te bevorder. Universiteitsdosente se opleiding in hierdie pedagogieë weerspieël die NWU se verbintenis om inheemse tale as tale van onderrig en leer te bevorder.

“Die BAQONDE-projek, ’n samewerkingsprojek tussen verskeie nasionale en internasionale universiteite wat oor die intellektualisering van inheemse tale saamwerk, is die fokus van Vrydagoggend se sessie. Deelnemers wat vir hierdie sessie registreer, kan uitsien na verskeie verteenwoordigers van vennootuniversiteite wat oor die doelwitte en beraamde uitkomste van hierdie projek praat. Die BAQONDE-sessie fokus op ’n driejaar- EU-geborgde Erasmus+-projek, wat ’n samewerkende kapasiteitsbouprojek met die oog op die bevordering en gebruik van inheemse Afrikatale in hoër onderwys in Suid-Afrika is.  

“Die vernaamste doelwit is om toegang te verskaf tot die gebruik van Afrikatale, en so universiteitstudente in staat te stel om hulle volle potensiaal te bereik. Dit is ’n samewerkingsprojek tussen sewe Europese en Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings: die Universiteit van Salamanca (Spanje), die Noordwes-Universiteit, die Universiteit van KwaZulu-Natal, Rhodes Universiteit, die Universiteit van Groningen (Nederland), Trinity College Dublin (Ierland) en die Universiteit van Wes-Kaapland,” sê sy.

Prof Maryna sê ander hoogtepunte sluit sessies oor taalportrette in, waartydens deelnemers die geleentheid sal kry om oor hulle eie “linguistiese samestelling” na te dink, sessies oor die werk van prominente skrywers in Afrikaans, Engels en Tswana, en nadenke oor uitdagings ten opsigte van die skryf en publikasie van Tswana-tekste, asook ’n sessie oor die gebruik van tale om te manipuleer.<0} ’n Sessie wat nie misgeloop moet word nie, is die een wat gaan terugdink aan die werk van die Waarheids- en Versoeningskommissie kort nadat Suid-Afrika in 1994 ’n demokrasie geword het. Hartverskeurende stories en verskillende ervarings sal vanuit die perspektief van die tolk/vertaler gedeel word.

TBW sluit op Vrydag 17 September af met die bekendmaking van wenners in verskeie kompetisies. Video- en/of oudio-opnames wat deur studente en personeel ter viering van hulle huistale ingedien is, sal daagliks gedeel word. Studente is voorts uitgenooi om kreatiewe werk in die vorm van gedigte of kortverhale met die tema Aanpassing in Afrikaans, Engels, Tswana en Suid-Sotho in te dien. ’n Digitale keur van gedigte sal op die TBW-webblad geplaas word en ’n wenner vir elke taalgroep en elke genre sal aangekondig word.

Volgens prof Maryna sluit ander aktiwiteite die kompetisie in vir studente in die Fakulteit Opvoedkunde waar hulle hoëfrekwensiewoorde/-frases wat in ’n bepaalde generiese akademiese module gebruik word van Engels na Tswana moet vertaal; die uitdaging vir studente om ’n bydrae te lewer tot ’n ko-kurrikulêre terminologielys van die studentelewe met woorde en frases wat deur studente in ’n ko-kurrikulêre omgewing gebruik word, met insluiting van die vier teikentale van die Universiteit; en ’n kompetisie vir die vertaling van ’n oudio-opname van ’n gesprek tussen personeellede wat in ’n verskeidenheid tale kommunikeer (Afrikaans, Engels, Pedi, Tswana, Sotho, Grieks en Duits).<0}

Sleutel bloot NWU Taalbewustheidsweek op ’n Google-soektog in of gaan na die webwerf van die NWU en klik op die banier vir Taalbewustheidsweek. Jy sal daar die hele program vir die TBW aantref en ’n knoppie om vir die verskillende interessante sessies te registreer wat tydens die week van 13 tot 17 September aangebied gaan word.

Submitted on Thu, 09/09/2021 - 13:48