NWU vier Kindergesondheidsdag saam met die Stadt Primêre Skool

Om Kindergesondheidsdag te vier, het die Fakulteit Gesondheidswetenskappe van die Noordwes-Universiteit (NWU) ’n klompie prettige aktiwiteite vir die kinders by die Stadt Primêre Skool gereël om die voordele van ’n gesonde leefstyl aan hulle oor te dra.

Leerders en ouers van die skool in Mahikeng se Montshioa-Stadt-dorpie is uitgenooi om die gebeurtenis by te woon wat op 12 Oktober 2023 by die Ratshidi-saal gehou is. Dit is deur die universiteit gereël om ’n bewustheid oor ’n gesonde leefstyl te skep, data in te samel en ’n goeie verhouding met die plaaslike gemeenskap te bou.

Die skool se gehalteleer- en onderrigkomitee (SQLTC), wat uit verskillende belanghebbers bestaan, insluitende staatsdepartemente, besighede, nieregeringsorganisasies en andere, het hulle steun aan die geleentheid gegee en van hulle lede het ook aan die dag se aktiwiteite deelgeneem.

’n Opgewonde en energieke groep oumas het aërobiese oefeninge gedemonstreer en onderstreep hoe belangrik dit is om fiks te bly, en die Mmabana Karatekas het die leerders se aandag met hulle karatebewegings vasgevang gehou en hulle aangemoedig om aan sport deel te neem as ’n manier om ’n gesonder leefstyl te handhaaf. 

Prof Ushotanefe Useh van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe het die geleentheid gebruik om bevindings aan te bied uit gesondheidsdata wat in 2022 ingesamel is, en liggaamsmassa-indeks-metings (BMI-metings), en toetse vir bloedsuiker en bloeddruk is gedoen. Van die leerders en onderwysers was óf oorgewig óf ondergewig en die belangrikheid van ’n gebalanseerde dieet is weer beklemtoon.

In ooreenstemming met die Wêreldwye Handewas-bewustheidsweek is die sewe noodsaaklike stappe om jou hande te was aan die leerders gedemonstreer.

Amptenare van Noordwes se Provinsiale Gesondheidsdepartement het vertel van die omvattende ondersteuning wat hulle aan leerders bied, insluitend leiding oor mondhigiëne, inentingsprogramme en ander maatreëls om leerders se welstand regdeur hulle skoolloopbaan te verseker.

Hierdie gebeurtenis het uiteindelik die leerders behoorlik ingelig en noodsaaklike kennis oor die belangrikheid van ’n gesonde leefstyl en van gereelde oefening is oorgedra.  Die leerders, wat nou met hierdie nuwe kennis toegerus is, het belowe dat hulle hierdie kennis aan hulle families, vriende en die groter samelewing sal gaan deurgee. Dit was ’n pretgevulde dag waar die boodskap van die voordele van ’n gesonde leefstyl oorgedra is.

Leerders en ouers van die Stadt Primêre Skool in Mahikeng se Montshioa-Stadt-dorpie leer meer oor die voordele van ’n gesonde leefstyl.

Submitted on Thu, 11/16/2023 - 15:48