NWU vereer virtuoos prof Herman Hubert van der Spuy

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het ’n eredoktorsgraad aan prof Herman Hubert van der Spuy toegeken vir sy buitengewone bydrae wat gehelp het om die Suid-Afrikaanse musieklandskap te vorm.

Prof Van der Spuy se invloed en bydraes as beoordelaar, eksaminator en adviseur by musiekinstellings regdeur Suid-Afrika het op 26 Oktober aan hom hierdie erkenning gegee.

“Hierdie eredoktorsgraad was baie onverwags en ek beskou dit as die grootste erkenning in my loopbaan. Ek wou altyd nóg ’n doktorsgraad voltooi het, en toe hierdie een kom, was dit baie vervullend. Ek het gedurende my loopbaan met studente van verskeie universiteite gewerk, insluitend talle talentvolle meesters- en doktorsgraadstudente van die NWU, en dit maak dit nog meer spesiaal,” sê Prof Van der Spuy.

Prof Van der Spuy het regdeur sy loopbaan buitengewone bydraes op die gebied van musiek gelewer en hy het ’n geweldige invloed deur sy kundige betrokkenheid uitgeoefen. Sy ervaring in die eksaminering van verskillende instrumente en stemme het van hom ’n besondere veelsydige eksaminator met ’n magdom kennis en insig gemaak.

Hy het beduidend tot die ontwikkeling van talentvolle jong Suid-Afrikaanse musici bygedra, soos dit duidelik uit sy werk as voormalige direkteur van Unisa se Musiekdirektoraat blyk. Onder sy leierskap is Unisa se gegradeerde musiekeksamenstelsel opgebou tot op die punt waar dit ongeveer 10 000 sertifikaateksamens en 800 lisensiaateksamens kon hanteer.

Deur inisiatiewe soos die Hubert van der Spuy Nasionale Musiekkompetisie, wat sy naam dra, kon Suid-Afrikaanse kinders van alle agtergronde die geleentheid kry om hulle musiektalent te vertoon.

Sy betrokkenheid by musiek strek so ver as dat hy die voormalige redakteur van Musicus, die tydskrif van Unisa se Musiekdirektoraat was, asook ’n beoordelaar by musiekkompetisies en eksterne eksaminator en adviseur vir verskeie universiteite se musiekdepartemente. Dit sluit die NWU se Skool vir Musiek in.

Prof Van der Spuy is sedert 2003 ’n erelid van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Musiekonderwysers nadat hy vier termyne lank as voorsitter van die vereniging gedien het.

Sy baanbrekernavorsing oor die Suid-Afrikaans-gebore Priaulx Rainier het die pad oopgemaak vir ander om sy werk voort te sit oor hierdie akademies-verwaarloosde maar belangrike vrou in die Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis.

Erkenning vir sy uitnemende werk het van heinde en verre gekom. Hy was die ontvanger van verskeie eerbetonings soos die gesogte Huberte Rupert-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, asook die Erelisensiaat in Musiek (ELM) van Unisa.

Prof Van der Spuy is in George in die Wes-Kaap gebore. Onder sy alma maters is die Universiteit van Stellenbosch en Universiteit van Port Elizabeth, asook die Akademie Für Musik und Darstellende Kunst in Wene.

Hy het ’n bydrae tot verskeie publikasies en openbare lesings gelewer en was by verskillende professionele verenigings betrokke.

...

Die Noordwes-Universiteit het ’n eredoktorsgraad aan prof Herman Hubert van der Spuy . Saam met hom is Prof Linda du Plessis.

Submitted on Thu, 10/26/2023 - 14:37