NWU vereer sy verteenwoordigers van uitnemendheid

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het tydens die universiteit se Uitnemendheidstoekennings vir 2021/2022 sy voorlopers van uitnemendheid – een van die universiteit se kernwaardes – gevier.

Die luisterryke toekenningseremonie het op 24 November by Snowflake in Potchefstroom plaasgevind.

Die NWU het tydens hierdie gebeurtenis die heel beste akademici regoor die drie afdelings van die universiteit se kernbesigheid vereer: onderrig en leer, navorsing en innovasie, en gemeenskapsbetrokkenheid.

Prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier, sê dat die gee van erkenning noodsaaklik is om die uitnemendheid, en die motivering en behoud van toegewyde personeel te koester.

“Ons besef dat benoemdes en ontvangers van die Uitnemendheidstoekennings rolmodelle vir hulle mentees is. Om mentors te beloon, is ’n manier om hulle buitengewone prestasie te erken en hulle te vereer, en om hulle protégés steeds te motiveer om uitnemendheid na te streef.”

NWU produseer kampioene in onderriguitnemendheid

Prof Tyobeka het beklemtoon dat onderrig en leer geleidelik in digitale onderrig oorgegaan het, maar vinniger as wat verwag is. “Daar is ’n toenemende behoefte aan tegnologie-integrasie om beter doeltreffendheid te verseker te midde van skaars of beperkte hulpbronne.” Hy sê ondersteuning aan personeel moet na ’n hoër rat oorgeskakel word sodat meer geoutomatiseerde selfhelpvermoëns geskep kan word. Akademici moet in vennootskap met strukture soos die Sentrum vir Onderrig en Leer binne fakulteite met hulle onderrig- en tegnologie-integrasie ’n kern van hoërvlakondersteuning bied .

Toonaangewende universiteitsdosente het in ses verskillende toekenningskategorieë erkenning ontvang:

Dr Claudine Roos van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe het die University Teaching Excellence Award (UTEA) ontvang.  Dr Roos, van die Skool vir Geografie en Omgewingstudie, het haar kundigheid oor afvalbestuur, omgewingsouditering, omgewingsbestuurstelsels en geïntegreerde waterhulpbronbestuur gedeel.

Die Innovation in Teaching and Learning Award het na Michelle Groenewald van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe gegaan, terwyl Hanlie Steyn van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe die Toekenning vir Onderrig met Inligtings- en Kommunikasietegnologie ontvang het.

Gordon Sekano (Fakulteit Opvoedkunde) en dr Monray Edward Williams (Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe) het die Novice Teacher Award ontvang. Dr Williams het ook erkenning ontvang vir die beste portefeulje wat vir die Novice Teacher Award voorgelê is.

Die 53 ontvangers van die Faculty Teaching Awards is vroeër hierdie maand aangekondig. Hulle het tydens die gebeurtenis in die sesde toekenningskategorie erkenning vir hierdie prestasie ontvang (Klik hier om die volledige lys te sien.) 

Navorsers en innoveerders ontvang erkenning vir uitnemendheid

Die NWU is trots op sy navorsing wat ’n impak maak. Prof Tyobeka sê dat die NWU goed vaar ten opsigte van navorsing en innovasie en dat die instelling selfs nog beter sal doen. “Soos dit in die Institusionele Strategiese Plan verwoord word, is die NWU se doel om navorsing en innovasie uit te bou, met ’n strategiese fokus op internasionalisering.” Hy sê dat die NWU verheug is oor die groeiende getal NNS-gegradeerde navorsers. “Ons het tans meer as 300 NNS-gegradeerde navorsers, en van hulle het 35 B-graderings. Ons Navorsing en Innovasie-portefeulje het ’n vyfjaar- strategiese belegging ontwikkel om NNS-A-gegradeerde navorsers uit die groep B-gegradeerde navorsers te kweek en te ontwikkel. Ons hoop dat hierdie intervensie ons prestasie op hierdie gebied sal uitbou.”

Hierdie jaar se Uitnemendheidstoekennings vir Navorsing en Innovasie is:

Prof Olubukola Babalola van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het die gesogte titel van Most Productive Senior Researcher huis toe geneem, terwyl prof Sune Ferreira-Schenk van dieselfde fakulteit as Most Productive Junior Researcher aangewys is.

Prof Christa Rautenbach van die Fakulteit Regte en prof Lesley Wood van die Fakulteit Opvoedkunde het erkenning vir hulle nasionale en internasionale lidmaatskap ontvang.

Prof Leenta Grobler van die Besigheidskool en dr Henri Marais van die Fakulteit Ingenieurswese het die Top Inventor Award ontvang.

Prof Dmitri Bessarabov van die Fakulteit Ingenieurswese het met die Innovation Impact Award weggestap.

Hierdie jaar se ontvangers van die Visekanseliersmedalje is Onkarabile Osiele van die Fakulteit Regte, Marie Smit van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, en Megan Heath van die Fakulteit Natuur-en Landbouwetenskappe.

Die S2A3-bronsmedalje vir oorspronklike navorsing op meestersgraadvlak is aan Walter Heymans van die Fakulteit Ingenieurswese toegeken.

Agt-en-veertig navorsers is vereer omdat hulle Nasionale Navorsingstigting-graderings (NNS-graderings) ontvang het of na hoër graderings opgeskuif het. (Klik hier om die hele lys te sien.) 

Gemeenskapsbetrokkenheid is deel van die NWU se DNS

“’n Universiteit bestaan nie los van die samelewing nie, en ook nie los van die gemeenskappe waar dit geleë is nie. Ons glo dat ons ’n instelling moet wees wat stewig in gemeenskappe gegrondves en geanker is. Dit is om daardie rede dat ons gemeenskapsbetrokkenheid geïdentifiseer het as een van die pilare wat ons kan help om doeltreffend by gemeenskappe betrokke te wees.”

Prof Tyobeka sê die NWU is ’n lewendige en dinamiese krag in sy samelewings, en inkorporeer burgerlike betrokkenheid en gemeenskapsdiens by die universiteit se navorsings- en onderrigprogramme.

Personeel het in vier kategorieë erkenning ontvang vir hulle uitstekende bydraes tot die NWU se gemeenskapsbetrokkenheid.

Hoewel daar ’n onderskeid tussen gevestigde en nuwe akademici is, het hierdie jaar se ontvanger van die toekenning vir nuwe navorsers gevestigde aansoekers uitgestof.

Nisa Ayob van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe het die Sharing of Expertise Award vir die Fundalula App ontvang. Die app se doel is om hoërskole met hulle vordering met GIS te help.

Dr Johan Jordaan van die NWU Besigheidskool en die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het as gevestigde akademikus die Engaged Teaching and Learning Award in die kategorie vir Diensleer ontvang. Dr Jordaan het sedert 2012 die konsep van diensleerprojekte by sy MBA-bedryfsmodule ingesluit. Tussen 2013 en 2022 het meer as 100 niewinsgewende organisasies by hierdie projekte gebaat.

Prof Stuart Piketh en ’n span van 15 lede het oor twee fakulteite saam gewerk ― die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe en die Fakulteit Ingenieurswese. Hulle het die Engaged Research and Innovation Award ontvang vir hulle innovasie om die lewensgehalte van lae-inkomstegemeenskappe te verbeter deur lugbesoedeling met behulp van lae-emissie, semikontinue koolstowe te verminder.

Die NNS-SARChI-leerstoel in Stede, die Reg en Omgewingsvolhoubaarheid (CLES) van die Fakulteit Regte het die Scholarship of Engagement Award ontvang. Hierdie toekenning gee erkenning aan samewerking tussen akademici en individue buite die akademie. CLES is die eerste navorsingsleerstoel in die geskiedenis van die NWU se Fakulteit Regte. Dit bestaan uit ’n groep van 12 nagraadse navorsers op meestersgraad- en PhD-vlak, asook postdoktorale genote wat onder toesig van die bekleër van die leerstoel, prof Anél du Plessis, werk.

Prof Tyobeka het sy dank aan al die ontvangers vir hulle uitmuntende werk en bydraes betuig. “Onder al die uitdagings wat ons in die afgelope paar jaar ervaar het, is julle vlak van toewyding en veerkragtigheid lofwaardig.”

Kyk na die hele geleentheid hier. 'n Korter uittreksel is hier beskikbaar.

Submitted on Fri, 11/25/2022 - 09:29