Haar transformatiewe leierskap deur haar redakteurskap van die Potchefstroomse Elektroniese Regsblad is ’n baken van prestasie in die visie en missie van die Noordwes-Universiteit (NWU) om ’n toonaangewende universiteit in Afrika te wees. Haar prestasies in die regsakademie en vaktydskrifontwikkeling het aan prof Christa Rautenbach die NWU se Kanseliersmedalje besorg.
Sy het op 6 Junie hierdie eer tydens ’n gradeplegtigheid ontvang. Die Kanseliersmedalje word toegeken aan mense wat buitengewone verdienste toon of wat ’n betekenisvolle bydrae tot die samelewing gelewer het.
Die Potchefstroomse Elektroniese Regsblad het onder leiding van prof Rautenbach ontwikkel vanaf ’n nederige plaaslike publikasie tot ’n wêreldwyd erkende platform vir regsvakkundigheid. Die vaktydskrif is Suid-Afrika se top-aangehaalde, internasionaal geakkrediteerde ooptoegang-regstydskrif. Dit het die NWU se internasionale posisie baie versterk.
“Om die Kanseliersmedalje te ontvang, is ’n geweldige eer wat my baie nederig laat voel. Dit is nie net die erkenning van persoonlike toewyding nie, maar ook van die gesamentlike poging agter die bou van ’n platform wat regsvakkundigheid in Afrika op die wêreldverhoog plaas. Hierdie toekenning bevestig die waarde van deursettingsvermoë, innovasie en mentorskap in akademiese publikasies, en versterk my voorneme om voort te gaan om inklusiewe regsnavorsing van ’n hoë gehalte te lewer wat geregtigheid en vakkundigheid binne en buite Suid-Afrika bevorder,” sê prof Rautenbach.
Haar loopbaan is vol merkwaardige prestasies. Met haar passie vir geregtigheid en regsvakkundigheid het sy 46 onderskeidings regoor haar BJuris- en LLB-grade ontvang, en sy het verder uitgeblink terwyl sy haar LLM- en LLD-grade verwerf het.
Van staatsaanklaer tot professor
Prof Rautenbach het sedert 1994 oorgeskakel van ’n pos as staatsaanklaer tot die van ’n professor aan die Fakulteit Regte van die NWU. Haar opgang in die akademie was vinnig – vanaf lektor na senior lektor, na medeprofessor en uiteindelik in 2005 na professor. Sy is ’n wêreldwyd erkende navorser en het ’n B3 NNS-gradering, wat sy in 2021 ontvang het.
Prof Rautenbach het sedert 2002, en veral sedert 2012 as hoofredakteur, die eksponensiële groei van die Potchefstroomse Elektroniese Regsblad gelei – vanaf ’n interne publikasie met beperkte skrywers en lesers tot ’n gerespekteerde wêreldwye platform met meer as 1 000 gepubliseerde artikels van skrywers regoor die wêreld.
Die vaktydskrif het indeksering in groot databasisse soos Scopus en die Directory of Open Access Journals (DOAJ) verwerf, en het die DOAJ se seël van goedkeuring ontvang. Sy het volhoubare finansiële modelle bekendgestel, internasionale befondsing verkry en was aan die voorpunt van die digitale transformasie van die Potchefstroomse Elektroniese Regsblad deur middel van oopbron-publikasiesagteware.
Nog ’n betekenisvolle mylpaal was om in 2015 deelname aan ’n loodsprojek van die Kulisa Platform te verkry, wat deur die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika aangebied word. Hierdie inisiatief gebruik die oopbron-sagteware van die Public Knowledge-projek se Open Journals Systems vir die bestuur van eweknie-beoordeelde vaktydskrifte. Prof Rautenbach het die ingewikkeldhede van die ontwikkeling van die vaktydskrif se webwerf bestuur en hou toesig oor die aanlyn tydskrifprosesse. Dit sluit die noukeurige taak in om geskiedkundige inhoud op te laai.
Ten spyte van aanvanklike uitdagings met beperkte opleiding en kundigheid, het prof Rautenbach die inisiatief geneem om alle inhoud op die tydskrif se webblad te ontwikkel en in stand te hou. Dit behels noodsaaklike inligting, beleide, uitleg, template, en vele meer. Haar onlangse insluiting van ’n beleid oor kunsmatige intelligensie (KI) maak die tydskrif een van die eerstes om dit te doen.
Haar verbintenis strek verder as publikasies. Prof Rautenbach is ’n mentor vir jong vakkundiges en redakteurs, sy lei spanne op al drie die NWU se kampusse op, en bevorder diversiteit en uitnemendheid in akademiese publikasie. Haar praktiese benadering verseker dat elke voorlegging aan hoë standaarde voldoen, en haar redaksionele leiding ondersteun opkomende navorsers en skrywers.
Prof Christa Rautenbach het die Kanseliersmedalje van die NWU ontvang.