NWU vereer personeel en studente vir die bevordering van sy waardes en handelsmerk

Om op die Noordwes-Universiteit-manier (NWU-manier) te leef, beteken om waardegedrewe en trots te wees. Die universiteit het op 25 Mei tydens ’n prestigegeleentheid toegewyde personeel en studente vir die bevordering en uitbouing van sy kultuur en strategie beloon.

Die NWU se eerste toekenningseremonie vir die erkenning van Media and Organisational Citizenship het by die Roots-funksielokaal in Potchefstroom plaasgevind. Agtien belangrike beïnvloeders het erkenning vir hulle gewaardeerde bydraes as handelsmerk-ambassadeurs, intern sowel as ekstern, ontvang. Elkeen van die ontvangers het ’n trofee asook ’n kontantprys ontvang.

Personeel en voltydse studente regoor die universiteit se drie kampusse het hulle eweknieë benoem wat in die tradisionele en digitale/sosiale media aangehaal word, asook diegene wat gedurende 2022 deurlopend die NWU se waardes bevorder en gedemonstreer het. ’n Paneel van sewe lede bestaande uit personeel en studente het die benoemings beoordeel.

Die universiteit het erkenning aan benoemdes in agt kategorieë gegee.

Die ontvangers van die toekennings was:

Sosialemediapersoonlikheid (vir buitengewone bydraes tot die NWU se openbare reputasie op sosialemediaplatforms) – prof Nico Smit (personeel) en Kagiso Somngesi (student).

Tradisionelemediapersoonlikheid (vir buitengewone bydraes in die tradisionele media, insluitende koerante, televisie en radio) – prof Raymond Parsons (personeel) en Ian Thomson (student).

Buitengewone Mediadekking (vir ’n toename in mediablootstelling tydens ’n beperkte tyd van sewe tot 14 dae) – prof Raymond Parsons (personeel).

Voorstander van Maatskaplike Verantwoordelikheid en Bewustheid (vir bydraes wat met ’n verantwoordelikheid vir en bewustheid van maatskaplike regte verband hou, insluitende geslagsgebaseerde geweld, maatskaplike betrokkenheid, die regte van gestremdes, middelmisbruik, geestesgesondheid en -bewustheid, en maatskaplikewelstandsprojekte) – word deur personeellede Michelle Bownes en Mario Chaque gedeel. Obriel Takunda Maposa was die studente-ontvanger.

Voorstander van Diversiteit en Transformasie (vir buitengewone bydraes wat met transformasie verband hou, en diversiteitskonsepte en -inisiatiewe wat onder andere met ras, gender, seksuele oriëntasie, genderidentiteit, kulturele perspektiewe en meertaligheid verband hou) – word gedeel deur personeellede dr Keaobaka Seshoka en prof Sanette Brits. Thuso Molefi was die studente-ontvanger.

NWU Silwervlerke-toekenning (’n diskresionêre erkenningstoekenning aan personeel en studente wat die gees en karakter van die universiteit, sy kultuur en identiteit beliggaam). Personeel en studente het vir die ontvangers van hierdie kategorie gestem.

Mahikengkampus:

Student: Kgopotso Hope Sekgobela

Personeel: Prof Martin Chanza

 

Potchefstroomkampus:

Student: Sibongiseni Buthelezi

Personeel: Kelebogile Oompie

 

Vanderbijlparkkampus:

Student: Sicelo Sibeko

Personeel: Michelle Groenewald

NWU Ambassadeur van die Jaar (word as die oorkoepelende toekenning beskou, bykomend toegeken aan een van die ontvangers van ’n NWU Media- en OCB-erkenningstoekenning, uitgesluit die Silwervlerke-toekenning) – prof Sanette Brits (personeel) en Kagiso Somngesi (student).

Visekanselierstoekenning (deur die visekanselier toegeken aan ’n lid van die bestuur wat deur hulle werk en betrokkenheid by die universiteit ’n buitengewone bydrae tot die bereiking van die NWU se strategie en waardes gemaak het). Van die name wat deurgegee is, het die paneel besluit om hierdie toe te ken aan Nkosinathi Tom.

Yusuf Abramjee, voorstander van maatskaplike kohesie en bevegter van misdaad en mediapersoonlikheid, was die gasspreker tydens die geleentheid. Hy sê dat universiteite ’n noodsaaklike rol speel om nie net die denke van hulle studente nie, maar ook die karakter van hulle gemeenskappe te vorm.

“Hulle (universiteite) dien as ’n mikrokosmos van die samelewing, en weerspieël die diversiteit wat ons nasie definieer. Om ’n gedeelde institusionele kultuur met hierdie uiteenlopende konteks te bou, is ’n uitdaging sowel as ’n geleentheid – ’n uitdaging omdat dit begrip vereis en ons verskille omarm, en ’n geleentheid omdat dit ons in staat stel om ’n werklik inklusiewe en verrykende omgewing vir almal te skep.”

Volgens Yusuf was daar nog nooit ’n tyd in die geskiedenis toe so baie stemme gehoor is nie. “Die belangrikste ding is dat daar na hulle geluister word. Maar, terwyl die reg op vryheid van spraak in ons Grondwet ingebou is en ’n inherente vryheid in die meeste van die lande regoor die wêreld is, gaan dit ook met groot verantwoordelikheid gepaard. Om onsself vryelik en verantwoordelik uit te druk, moet ons diversiteit omarm.”

Hy het leierskap as ’n sleuteldryfveer vir sukses uitgesonder. “As ’n noodsaaklike deel van die vorming van ’n gedeelde visie, kultuur en identiteit, is persoonlike leierskapsontwikkeling fundamenteel vir die NWU om sy doelwitte te bereik.”

Hy het die vyf leierskapsbeginsels (modelleer die pad; inspireer ’n gedeelde visie; daag die proses uit; bemagtig ander om op te tree; en bemoedig die hart) verduidelik, en gesê hy hoop dat dit almal sal inspireer om hulle innerlike leier te ontsluit en om saam ’n formidabele NWU-gemeenskap te vorm wat ’n krag is om ’n positiewe verandering in Suid-Afrika te weeg te bring

....

Die ontvangers van die NWU Media and Organisational Citizenship toekennings.

Submitted on Fri, 05/26/2023 - 11:22