NWU verbeter in onderrig op rangordelys

Times Higher Education (THE) het die Noordwes-Universiteit (NWU) in hulle jongste World University Rankings onder die topsewe plaaslike universiteite geplaas.

Die graderingsagentskap het op 27 September die ranglys vir hulle 2023-siklus bekendgemaak. Die NWU is daarop in die 601-tot-800-kategorie geplaas – dieselfde as verlede jaar.

Vergeleke met verlede jaar het die NWU sy oorkoepelende plasing op die gebiede van onderrig, bedryfsinkomste en internasionale profiel verbeter.

Die World University Rankings, wat as die grootste en mees diverse van sy soort beskou word, het 1 904 universiteite regoor 108 lande en streke geëvalueer.  Dit is die vyfde jaar dat die NWU aan hierdie graderings deelneem.

Prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van die NWU, sê ranglyste is altyd ’n goeie maatstaf om die impak en relevansie van die NWU met dié van ander universiteite – plaaslik en in die buiteland – te vergelyk.

“Ons navorsings- en onderrig- en leer-strategieë en -programme hou ons mededingend wanneer dit op internasionale vlak met die beste universiteite vergelyk word.”

Gekalibreerde prestasie-aanwysers bepaal die graderings                         

Die THE World University Rankings evalueer navorsingsintensiewe universiteite regoor al hulle kernmissies, wat onderrig, navorsing, kennisoordrag, en internasionale profiel insluit.

Volgens THE gebruik hulle 18 noukeurig-gekalibreerde aanwysers om die omvattendste en mees gebalanseerde vergelykings te verskaf wat deur studente, akademici, universiteitsleiers, die bedryf en regerings vertrou word. Die 18 prestasie-aanwysers word in vyf areas gegroepeer: onderrig, die navorsingsomgewing, navorsingsgehalte, die bedryf en internasionale profiel.

Vir meer inligting oor die 2024 THE World University Rankings, besoek: World University Rankings 2024 | Times Higher Education (THE).

Om meer oor die NWU se indrukwekkende prestasies in internasionale en nasionale graderings te lees, besoek: https://www.nwu.ac.za/rankings.

Submitted on Mon, 10/02/2023 - 08:07