NWU vasberade om die kollig op geslagsgebaseerde geweld te laat val

Die getalle spreek vanself: ’n baie groot getal vroue in Suid-Afrika leef in gevaar. Volgens ’n studie deur Statistieke Suid-Afrika het een uit vyf (21%) vroue met lewensmaats in hulle leeftyd al fisieke geweld deur ’n lewensmaat deurgemaak, en 6% het al seksuele geweld ervaar. Die voorkoms van fisieke geweld is die hoogste onder vroue in die Oos-Kaap, terwyl Noordwes die hoogste getal vroue het wat al seksuele geweld ervaar het (11,8%).

Asof dit nie skokkend genoeg is nie, is dit eintlik net die helfte van die verhaal. Die aaklighede wat vroue op ’n daaglikse basis moet deurmaak, kom wyd voor en word dikwels verswyg.  Die Noordwes-Universiteit (NWU) hoop om dit reg te stel, en die Welstandsweek-bewustheidsveldtog wat onlangs gehou is, met gebeurtenisse soos Stap ’n myl in my skoene, het die nood van talle vroue beklemtoon.

Volgens Beàtha Groenewald, wat as die Transformasie en Diversiteit-beampte aan die hoof van die Potchefstroomse Studentekampusraad-portefeulje vir Aktuele Sake staan, was die doel van die Stap ’n myl in my skoene-inisiatief om ’n bewustheid oor geslagsgebaseerde geweld te skep. Die naam, Stap ’n myl in my skoene, is ook simbolies van die slagoffer se uitdagende reis na oorlewing en florering. Die geleentheid het op die Potchefstroomkampus plaasgevind, en het bekendes soos die Springbok-legende Victor Matfield, die aktrise Angelique Gerber en die mediapersoonlikheid Katinka die Kat ingesluit, wat die staptog vanaf die Amfiteater regoor die kampus tot by Cachetpark meegemaak het. Die mans het vroueskoene gedra en andersom.

“Ons moet integriteit toon en respek vir mekaar hê. Ons moet mekaar nooit misbruik nie,” sê Groenewald. “Dit is een manier waarop ons geslagsgebaseerde geweld regoor die land kan verminder.”

Die Direkteur: Studentelewe op die Potchefstroomkampus, dr Corrie Rheeder, het ook beklemtoon dat die NWU onversetlik is in sy poging om geslagsgebaseerde geweld te bekamp.   

“Geslagsgebaseerde geweld is ’n plaag wat uitgeroei moet word en ’n gif waarvoor ons ’n teenmiddel moet kry. Hoe meer ons ’n bewustheid oor hierdie onhoudbare situasie, hierdie onreg, kan kweek, hoe beter kan ons dit hokslaan.  Die stemme van die slagoffers moet gehoor word en ons moet aanhou om platforms vir hierdie stemme te skep om hulle stories te kan vertel. Hierdie dapper mense wat hulle hartverskeurende ervarings met ons deel, het ons ondersteuning nodig, en ek is trots om te sê dat die Noordwes-Universiteit daartoe verbind is om geslagsgebaseerde geweld  te stop.   

“Deur ondersteuning aan slagoffers van geslagsgebaseerde geweld te gee, en deur ons goeie verhouding met wetstoepassers in die gemeenskappe wat ons bedien, asook ons talle bewustheidsinisiatiewe, bly ons vasberade in ons voorneme om die weerloses te beskerm.   Daar kan altyd nog meer gedoen word, en ons sal aanhou om nog meer te doen. Dit is nie net ons verbintenis nie, dit is ons verantwoordelikheid.”   

As jy ’n slagoffer van geslagsgebaseerde of seksuele geweld is, kontak asseblief NWU Welstand se 24-uur-hulplyn by 0800 213 149, of stuur ’n e-pos aan die NWU se beradingsdiens by NWU@lifehealthcare.co.za. Jou privaatheid en veiligheid is ons eerste prioriteit.

.......

Prof Daryl Balia, Adjunk-visekanselier van die Potchefstroomkampus, Eagi, Angelique Gerber en Victor Matfield

Submitted on Thu, 06/02/2022 - 09:54