NWU Vaal se BTMG – ’n vergelyking wat sin maak!

Dit is hierdie jaar die vierde jaar wat die baie geslaagde leerprogram, Oorbrug die Wiskunde-gaping, aangebied word. Dit word deur die Fakulteit Ekonomiese Wetenskappe en Inligtingstegnologie aan die Vanderbijlparkkampus van die Noordwes-Universiteit aangebied.

Die program haal beslis die byt uit wiskunde uit, en bied aan leerders die geleentheid om akademiese programme wat Wiskunde vereis in die BCom- en BSc-veld te volg. In 2016 het ’n totaal van 47 leerders wat nie die minimum vereiste gehad het om BCom of BSc te studeer nie, vir die program ingeskryf. Nadat hulle 14 klastoetse (wat 10 persent tot hulle finale punt bygedra het) en twee eksamenvraestelle (van 100 punte elk wat die bykomende 90 persent tot die finale punt bygedra het) geskryf het, het 40 van hierdie leerders die program geslaag.

Die leerplan van die program dek nie net die basiese wiskundige begrippe wat vanaf graad 8 onderrig word nie, maar ook die toepassing van hierdie begrippe in ooreenstemming met die uitkomste wat in die graad 12-leerplan gespesifiseer word.    Kortom: ’n verskerpte fokus op die hele Wiskunde-spektrum wat as voorkennis vir die Wiskunde-modules in onderskeidelik die BCom- en BSc IT-leerplan sal dien.

Verbeterde toegang pak die nasionale vaardigheidstekort aan

Volgens prof Herman van der Merwe, Uitvoerende Dekaan van die Fakulteit Ekonomiese Wetenskappe en Inligtingstegnologie, help die BTMG-program graad 12-leerders om hulle prestasie in Wiskunde te verbeter en om sodoende beter toegang te verkry tot graadprogramme wat ’n goeie wiskundige basis vereis, soos BCom en BSc. “In 2016 het die fakulteit 42 BTMG-studente verwelkom, en 39 van hierdie studente vir Wiskunde-modules ingeskryf,” sê prof Van der Merwe. Benewens om vir studente toelating tot hierdie graadprogramme te gee, verseker die goeie wiskundige basis wat deur die BTMG-program verskaf word ook dat hierdie studente hulle semestermodules suksesvol geslaag het – sommige selfs met onderskeiding.

Professor Van der Merwe beklemtoon die belangrikheid van ’n inisiatief soos die BTMG en sê dat deur leerders te bemagtig om wiskundig vaardig en doeltreffend te wees, die kampus proaktief aan die groot behoefte van die land ten opsigte van hierdie vaardighede aandag gee. “Wiskunde is een van daardie vakke – saam met Wetenskap – wat baie belangrik is vir die ekonomie en die verdere ontwikkeling van ons land,” sê prof Van der Merwe, en voeg by dat skoolleerders wat hulle studies wil voortsit of in sektore soos ingenieurswese, natuurwetenskappe, inligtingstegnologie en medisyne wil werk, Wiskunde, Wetenskap of albei moet slaag as hulle vir verdere studie op hierdie gebiede wil kwalifiseer.  “Wiskunde bly die belangrikste maatstaf vir keuring by aanstellings. Die werklikheid is dat Wiskunde ’n sleutel is tot hoër onderwys en ’n werk wat goed betaal.”

 

Submitted on Thu, 01/12/2017 - 11:56