NWU Tawana soek ’n beter 2022/2023-seisoen

’n Goeie span kom altyd weer bo uit. Michael Seleka, sokkerbestuurder en hoofafrigter van die NWU Tawana op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Potchefstroom, klink platgeslaan wanneer hy ’n opsomming gee van sy span se prestasie in die SAFA ABC Motsepe-liga. Die NWU Tawana het hulle 2021/2022-veldtog in ’n teleurstellende sewende posisie afgesluit.

In die 2020/2021-seisoen het die NWU Tawana ’n respektabele vierde plek op die oorkoepelende ranglys van nege spanne behaal.

“Ons het hierdie seisoen ’n goeie eerste rondte gehad, maar ná die vakansie het ons ’n klomp wedstryde verloor wat ons moes gewen het.  Ons het geleenthede gehad wat ons nie benut het nie, en ons het ’n paar spelers verloor omdat hulle die universiteit in Desember verlaat het,” sê hy.

Maar, en met mense soos Seleka is daar altyd ’n groot “maar”, die NWU Tawana is alreeds reg om die 2022/2023-seisoen met nuwe ywer aan te pak.

“Die ouens is tot die einde van Junie af, maar ons soek alreeds na nuwe spelers en is besig om proewe te reël. Ons wil ’n paar nuwe spelers bykry, en ons gaan veral na die eerstejaars kyk. Die span is daar, ons moet net die ouens wat gegradueer het, vervang kry.”

Dit was vir Seleka ook ’n leerervaring.

“Ek het tot baie nuwe insigte gekom, veral wat video-ontledings en geestelike voorbereiding betref.  Ons het nog altyd video-ontledings gedoen, maar ons plaas nou baie groter klem op die fyner besonderhede. Dieselfde geld vir die geestelike voorbereiding. Elke wedstryd het ’n ander oriëntering nodig, en ons moet die ouens se ingesteldheid teenoor elke wedstryd slyp. Ons het die wedstryde soms te ligtelik opgeneem – tot ons nadeel. Dit is iets waaraan ek moet werk,” sê Seleka.

Daar is ’n ander kant van die munt om in ag te neem. Seleka verduidelik: “Sokker in Potchefstroom is anders. Ons werf spelers uit ons koshuise en hulle ding in ’n semiprofessionele liga mee.  Ons doen baie afrigting hier op die kampus in Potchefstroom, en dit is ’n goeie ding.”

Die NWU se kampus in Potchefstroom spog met een van die grootste koshuisligas in die land, met 44 koshuisspanne wat uit 21 manspanne en 23 vrouespanne bestaan.

Submitted on Tue, 05/17/2022 - 10:30