NWU-taalfoendi’s vir bydraes vereer

Drie taalfoendi’s van die Noordwes-Universiteit (NWU) – prof Daan Wissing, prof Wannie Carstens en prof Hennie van Coller – is onlangs vir hulle bydrae tot die Afrikaanse taal vereer.

Prof Wissing, senior navorser by die Sentrum vir Taaltegnologie (CtexT®) het erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Genootskap vir Linguistiek en Toegepaste Linguistiek (SALALS - Southern African Linguistics and Applied Linguistics Society) ontvang.

Hy het oor verskeie dekades ʼn besondere bydrae tot taalkunde in die Suid-Afrikaanse konteks gelewer. Hy was by meer as 90 publikasies as outeur, mede-outeur, medewerker en redakteur betrokke en het aan verskeie projekte tussen die NWU en ander Suid-Afrikaanse en internasionale universiteite deelgeneem en van die projekte gelei. Hy het ook ʼn aantal nagraadse studente gelewer wat later vooraanstaande lede van die linguistieke gemeenskap geword het.

Gedurende sy loopbaan is hy met verskeie toekennings vereer, waaronder ’n eremedalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Prestige Toekenning van die Taalkundige Vereniging van Suid-Afrika, en die CJ Langenhoven-prys vir Taalwetenskap.

Prof Carstens, emeritus professor van die Skool vir Tale, het die CJ Langenhoven-prys vir Taalwetenskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. Dié prys word vir taalwetenskaplike en/of taalskeppende werk in Afrikaans, met inbegrip van leksikografie, toegeken.

Hy word in Afrikaanse taalkundekringe as skrywer van baanbrekersboeke beskou, en word erken vir die rol wat hy as redakteur van kernpublikasies in die Afrikaanse taalkunde gespeel het. Van sy boeke word wyd as die gesaghebbendste bron oor ʼn besondere komponent van die Afrikaanse taalkunde geag – naamlik normatiewe taalkunde, asook tekslinguistiek en teksredigering.

Hy het ook met sy rubrieke en meningstukke in die pers ʼn belangrike rol in die popularisering van taalkunde gespeel.

Prof Van Coller is ʼn buitegewone professor verbonde aan die Fakulteit Geesteswetenskappe en deel vanjaar die Jan H Marais-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en meegaande prysgeld van R500 000 met prof Ina Wolfaardt-Gräbe van Pretoria.

Hy geniet wye aansien as literatuurwetenskaplike van internasionale formaat. Hy het nie net ʼn formidabele vakkundige publikasierekord as literatuurwetenskaplike nie, maar is ook ʼn erkende digter, vertaler en prosaskrywer. Hy is ʼn produk van die Universiteit van die Witwatersrand, met doktorsgrade van die Universiteit van Utrecht in Nederland en die destydse Randse Afrikaanse Universiteit, en is in 1997 deur die Vrystaatse Universiteit met ʼn bevordering tot uitgelese professor vereer.

........

Prof Daan Wissing

........

Prof Wannie Carstens

........

Prof Hennie van Coller

Submitted on Mon, 05/10/2021 - 10:14