NWU-student help om ’n verkiesing te verseker wat regverdig en glad verloop

Die 2024- nasionale verkiesing is beskou as ’n keerpunt vir Suid-Afrika, met die algemene publiek wat hoop vir ’n nuwe politieke landskap wat die langdurige ekonomiese uitdagings in die land sal hanteer. Gedryf deur ’n begeerte na verandering het Khotso Pitso, ’n finalejaar-BA-student in politieke studies aan die Noordwes-Universiteit (NWU), as ’n kieserslysbeampte by die Slovo Park-kliniek in Ekurhuleni gewerk.

Pitso se pligte het ingesluit dat hy die stemproses tydens die verkiesing moes fasiliteer en nou met die ander verkiesingsamptenare saamwerk om ’n gladde en regverdige verkiesingsproses te verseker. Pitso het met sy interpersoonlike interaksie by die verkiesingswette en -prosedures gehou.

“Iemand wat ek persoonlik ken, wou ’n guns hê om ’n spesiale stem uit te bring, maar het nie geregistreer om dit te doen nie. Party mense weet nie waar om die streep te trek nie. Ek moes egter my professionalisme bo my persoonlike verhoudings stel,” het Pitso bygevoeg.

Pitso was baie positief oor sy ervaring om vir die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) te werk, en het gesê dat dit vir hom ’n breë begrip gegee het van hoe die politieke stelsel funksioneer.

“Na my mening was die mees vervullende aspek van hierdie werk dat dit my graad in politieke studies sal verryk, en ’n invloed op my toekomstige beroep sal hê.”

Die jeug se deelname aan die stemproses is noodsaaklik om ’n verteenwoordigende, responsiewe en toekomsgerigte demokrasie te verseker. Pitso het egter voorspel dat die ouer mense in sy dorpie in groter getalle sal gaan stem as die jongmense, en hy het dit trouens soos volg gestel: “Die senior burgers het in groot getalle opgedaag om te kom stem”.

Hoewel Pitso tevrede is met die stemprosedure, beweer hy dat dit meer doeltreffend sal wees indien die senior burgers outomaties spesiale stemme kan uitbring. “Ek sou graag wou sien dat spesiale stemme in die toekoms outomaties aan senior burgers toegestaan word, sonder dat hulle daarvoor aansoek hoef te doen,” het hy bygevoeg.

“Een van die ervarings wat ek die beste sal onthou, is die diversiteit waaraan ek blootgestel is,” sê Pitso. Hy het bygevoeg: “Ek het met ’n verskeidenheid persoonlikhede te doen gekry, en almal was hartlik en innemend. My interaksie met mense van alle rasse en agtergronde was ’n ware verteenwoordiging van die diversiteit in my omgewing.”

Pitso het voorts gesê dat om te leer om die kieserbestuurstoestel (VMD) tydens die tydperk van spesiale stemme en op die verkiesingsdag te gebruik, die uitdagendste oomblik was wat hy ervaar het. Hy sê dat nadat hy die tegniese uitdagings oorkom het, die VMD vir hom die ideale verkiesingsverwante instrument geword het.

Breek deur die glasplafon

“Ek is trots op myself en trots oor wat ek kon bereik, en ek het myself belowe dat ek ’n groot impak op my ouers se lewens gaan maak,” sê Pitso. Benewens dat hy ’n betrokke burger is, het Pitso in

2022 saam met die Studente-kampusraad (SKR) se Jool-kantoor aan ’n geslaagde gemeenskapsprojek gewerk. In 2023 het Pitso die eerste student in die geskiedenis van die Potchefstroomkampus geword wat as die geesteswetenskappe se sportbeampte vir die Studente Akademiese Groep (SAG) aangestel is.

Pitso is in 2024 as die wenner van die fakulteitsdebat tussen die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurwetenskappe en die Fakulteit Geesteswetenskappe aangewys wat die openings- en slotargument betref.

....

Khotso Pitso is die voormalige onderkaptein van die mansgroep van NWU Netbal en dien tans as ’n studente-ambassadeur vir die bevordering van entrepreneurs vir die NWU se Potchefstroomkampus.

Submitted on Wed, 06/05/2024 - 15:21