NWU stel opvoedkundige kaartspeletjie bekend om Wêreld-IE-dag te vier

deur Vukosi Mathale

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het ’n nuwe opvoedkundige kaartspeletjie genaamd Prosper bekend gestel om Wêreld-IE-dag te vier. Die speletjie gebruik intellektuele eiendom (IE) om mense oor die Verenigde Nasies se 17 Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s) in te lig. 

Prosper is geskep deur die Bunt-broers (dr Byron Bunt en dr Lance Bunt), wat by die universiteit werk.  Dit is bedoel vir onderwysers om met leerders en studente tussen die ouderdom van 10 en 22 jaar te gebruik. Die speletjie bied verskillende uitdagings wat verband hou met maniere om die samelewing te verbeter. Spelers bespreek en kies oplossings uit die kaarte wat hulle vashou. Hierdie kaarte met oplossings is deursigtig. Wanneer jy hulle dus op die kaarte met die probleem neersit, voltooi hulle die prentjie.

Die Bunt-broers het al voorheen opvoedkundige speletjies geskep. Die oudste broer, Byron, is ’n medeprofessor in die Fakulteit Opvoedkunde, waar hy op speletjiegebaseerde selfgerigte leer vir Geskiedenisonderwys fokus, en vorm deel van die UNESCO-leerstoel in Multimodale Leer en Oop Opvoedkundige Hulpbronne.     Lance is ’n dosent in Rekenaarwetenskap en Inligtingstelsels en is ook ’n gekwalifiseerde grafiese ontwerper.  Die twee broers was nog altyd ywerige gamers, en het hulle eerste opvoedkundige speletjie, Dogs of War, in 2023 ontwikkel.   Dit dek die geskiedenis van die Tweede Wêreldoorlog in speletjieformaat, en gebruik speelkaarte wat die hoofkarakters van die oorlog as karikature van honde uitbeeld.  Die speletjie word tans in ’n klasopset by die NWU getoets.

Prosper is ’n bydrae van die broers tot gemeenskapsbetrokkenheid vir die groter opvoedkundige gemeenskap. Die VN se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte vorm die kern van hulle gesamentlike projekte, en veral van Byron se werk onder die vaandel van die UNESCO-leerstoel. Prosper sal binnekort op die webwerwe Merlot en OER Africa beskikbaar wees. Dit beteken dat onderwysers regoor die wêreld onmiddellike toegang daartoe kan kry deur dit af te laai, te druk en te gebruik.

Die broers werk saam met vennote in Europa om ’n digitale weergawe te skep. Dit sal ook gratis onder ’n Creative Commons-lisensie beskikbaar wees. Daarbenewens werk hulle saam met die NWU Besigheidskool om ’n kommersiële weergawe te skep wat op bestuurs- en leierskapsopleiding gemik is.

“Dit is ons nederige bydrae om die SDG’s by die onderwys te voeg, en om die probleemoplossers van die toekoms daarvan bewus te maak,” sê die Bunt-broers, wanneer hulle die motivering agter die ontwikkeling van Prosper verduidelik.

Hulle pogings het vir hulle ’n benoeming vir die Wêreld Intellektuele Eiendom-dag se Changemakers-galery verdien.  Hierdie galery bevat innoveerders, skeppers, entrepreneurs en IE-praktisyns wat IE-regte gebruik om innovasie en kreatiwiteit, wat ons nodig het om die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s) te bereik, te bespoedig, en ons gedeelde toekoms te bou.

WIPD Changemakers gallery

 

Dr Byron Bunt and Dr Lance Bunt

Dr Byron Bunt en Dr Lance Bunt

prosper sollution card

Prosper-oplossingskaart

prosper card back

Prosper-probleemkaart agterkant

 

Prosper sleeve

Prosper-boksomslag 2

Submitted on Tue, 05/07/2024 - 09:24