NWU slaan sesse: Plavei die pad – een LEGO-blokkie op ’n keer

Daar is ’n beroemde Chinese spreekwoord wat sê “As jy vir ’n jaar beplan, plant rys; as jy vir ’n dekade beplan, plant bome; as jy vir ’n leeftyd beplan, voed mense op”.

Daar is talle maniere waarop ’n mens ’n impak in die wêreld kan maak, maar daar is geen groter impak wat gemaak word nie as om opvoeding te ondersteun en mense te bemagtig wat ander mense sal bemagtig en onderrig, wat op hulle beurt weer ander sal bemagtig en onderrig.

Die 6BRICKS-inisiatief is nie iets nuuts by die Noordwes-Universiteit (NWU) nie. Hierdie instrument is in 2019 bekendgestel en is sedertdien by die kurrikulum van alle eerstejaarstudente in die Fakulteit Opvoedkunde ingesluit. Tydens die professionele oriënteringsprogram (POP) wat deel is van die eerstejaarsprogram en WILWORKS, is ’n ondersteuningsinisiatief verskaf aan alle studente wat by skole geplaas moet word om werkgeïntegreerde leer/onderrigpraktyk (WIL) te doen. Hierdie vroeë 6BRICKS-inisiatiewe is onder leiding van prof Carisma Nel en dr Elma Marais geïmplementeer. Nadat hierdie basis gelê is, is hierdie inisiatief in 2020 verder ontwikkel en as terapeutiese instrument by die BEd Honneurs Opvoedkundige Sielkunde-program ingesluit. Hierdie byvoeging is onder beskerming van die Opvoedkundige Sielkunde-vakgroep in die Fakulteit Opvoedkunde, en onder die professionele toesighouding van die opvoedkundige sielkundiges dr Lynn Preston, dr Wanda van der Merwe en mnr Jaco van der Merwe gedoen.

Namate hierdie inisiatief ontwikkel, sal verdere byvoegings die sesblokkie-konsep versterk. Elke eerstejaarstudent sal vanaf 2022 ’n stel 6BRICKS as deel van die WIL-program ontvang. Dit sal verseker dat die NWU-studente teen die tyd dat hulle as professionele onderwysers opgelei is, reeds van die kennis sal hê wat internasionaal as die 6BRICKS-inisiatief bekend staan. Hierdie NWU-studente sal ook oor die basiese grondslag beskik om hierdie kennis toe te pas indien hulle besluit om hulle akademiese loopbane voort te sit en die honneursgraadprogram te volg.

Die bekendstelling van die insluiting van 6BRICKS by die BEd Honneurs-program het op 24 Augustus by die Stilfontein Laerskool plaasgevind. Dit was in werklikheid die amptelike bekendstelling waarby die Noordwes Departement van Basiese Onderwys (DBO) se Grondslagfase-vakkoördineerders betrek is. Die geleentheid is op 1 September 2021 by die gewilde Purple Carrot Chef School of Culinary Arts in Potchefstroom gevier.

Tydens die Noordwes DBO-opleidingsessie het prof Lloyd Conley, uitvoerende dekaan by die Fakulteit Opvoedkunde aan die NWU, almal verwelkom en bygevoeg dat die NWU trots is om die gebeurtenis aan te bied, en dat die een ding wat nie deur die jare verander het nie Lego-blokkies is, en die manier waarop ons dit aanwend. Hy het verder gesê dat hy daaraan herinner word hoe die onderwyser vir hulle as kinders tydens hulle skooldae in die klas laat speel het en hoe hulle verskillende dinge daardeur geleer het. Prof Conley het met ’n wyse opmerking afgesluit: “As ons die lewens van mense in ons land wil verbeter, moet ons hulle eers opvoed.”

Dr Elize Küng, Adjunkdekaan: Gemeenskapsbetrokkenheid en Belanghebberverhoudinge en senior lektor by die Skool vir Professionele Studies in Onderwys, het ook die studente toegespreek en almal herinner aan die voorreg om met die DBO saam te werk, met almal wat dieselfde passie deel om die kinders van Suid-Afrika op te voed.

Die opleiding het deelnemers aangemoedig om weer die pret van spel te ervaar. Al die fasiliteerders en vakspesialiste het met mekaar gesels en moes talle praktiese oefeninge doen, soos om patrone te bou, blokkies te pak, en bewegingsoefeninge te doen – alles met behulp van ses eenvoudige Lego-blokkies. Die opleiding het getoon hoe ’n kind konsentrasie bou terwyl hulle aktief betrokke is en so inklusiewe klaskamers bevorder. Verskeie elemente van sensoriese stimulasie is ook bygevoeg en breinontwikkeling is aangemoedig. Dit was ’n dag vol pret, leer en opwindende moontlikhede. Die opleiding is verskaf deur dr Elma Marais en mnr Jaco van der Merwe, wat albei gesertifiseerde 6BRICKS-opleiers is, en hulle is bygestaan deur dr Lynn Preston en dr Wanda van der Merwe, wat albei RGBSA-geregistreerde opvoedkundige sielkundiges by die NWU is.

........

Dr Elma Marais, Mr Jaco van der Merwe, Dr Lynn Preston, Ms Elmaré Mong en Dr Wanda van der Merwe

........

Dit was in werklikheid die amptelike bekendstelling waarby die Noordwes Departement van Basiese Onderwys (DBO) se Grondslagfase-vakkoördineerders betrek is.

........

Dr Elize Küng en Prof Lloyd Conley

 

 

Submitted on Tue, 10/05/2021 - 10:47