NWU skitter weer in die topsewe van die ranglys

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is steeds plaaslik en internasionaal onder die room van die oes. Die jongste ranglys van die ShanghaiRanking Consultancy plaas die NWU weer eens onder die topsewe Suid-Afrikaanse universiteite op sy 2024 Academic Ranking of World Universities (ARWU).  

ARWU lys die NWU in die 601- tot 700-kategorie internasionaal – ’n aansienlike prestasie, aangesien slegs die beste 1 000 uit meer as 2 500 universiteite wat jaarliks beoordeel word, gepubliseer word.   Die ShanghaiRanking Consultancy het hulle lys op 15 Augustus gepubliseer. 

Dit is ’n voortsetting van uitnemendheid 

Die NWU het sy goeie vertoning op verskeie ranglyste deur verskillende graderingsagentskappe voortgesit. Die jongste Quacquarelli Symonds (QS) World University Rankings, wat op 4 Junie gepubliseer is, het die NWU ook op hulle Top Global Universities-ranglys vir 2025 onder die topsewe Suid-Afrikaanse universiteite geplaas. 

Die Center for World University Rankings (CWUR) het op 13 Mei die NWU onder die top-4,2% van die wêreld se beste universiteite geplaas, en die Young University Rankings deur Times Higher Education (THE) plaas die NWU 183ste uit 673 universiteite op die lys van die wêreld se beste universiteite van 50 jaar of jonger. 

Meer oor die ARWU-ranglys 

ARWU gebruik ses objektiewe aanwysers om die wêreld se universiteite te gradeer. Dit is: die getal alumni wat Nobel-pryse en Fields-medaljes wen (10%); die getal personeellede wat Nobel-pryse en Fields-medaljes wen (20%); die getal navorsers wat die meeste in 21 breë vakkategorieë aangehaal is (20%); die getal referate wat in Nature and Science opgeneem is (20%); die getal referate wat in die Science Citation Index-expanded and Social Sciences Citation Index opgeneem (20%); en die per capita akademiese prestasie van die instelling (10%). 

Om meer oor hierdie jaar se ARWU-ranglys te lees, besoek: https://www.shanghairanking.com/rankings/arwu/2024, of vir meer oor die NWU se prestasie op die verskillende ranglyste, besoek: https://www.nwu.ac.za/rankings

Submitted on Tue, 08/20/2024 - 11:06