NWU skitter as een van Afrika se topagt volhoubaarheidsgedrewe universiteite

Die Noordwes-Universiteit (NWU) bou steeds aan sy reputasie as ’n innoverende, wêreldbetrokke instelling wat tot uitnemendheid en samelewingsrelevansie verbind is. Hierdie verbintenis word deur sy strategie, Neem die NWU vorentoe: 2024 en daarna, gedryf. Dit word weer eens bevestig in die jongste Quacquarelli Symonds (QS) Sustainability Ranking, wat ons toenemende impak beklemtoon om kritieke omgewings-, maatskaplike- en bestuursprioriteite te hanteer wat met die Verenigde Nasies se 17 volhoubare ontwikkelingsdoelwitte ooreenstem.

QS het sy gradering vir volhoubaarheid (Sustainability Ranking) op 18 November vrygestel en die NWU onder die topagt universiteite uit 82 kwalifiserende instellings in Afrika geplaas. Plaaslik is die NWU sesde onder 13 Suid-Afrikaanse universiteite. Dit is ’n verbetering op verlede jaar se sewende plek. Hierdie erkenning is veral merkwaardig in die lig daarvan dat 2 001 internasionale instellings hierdie jaar vir die ranglys gekwalifiseer het, wat meer is as die ongeveer 1 800 van die vorige jaar. In die oorkoepelende uitslae is ons nou wêreldwyd in die 548ste plek, met ’n verbeterde totale telling van 66,9 uit 100, vergeleke met 61,8 verlede jaar.

Ranglys bied ’n multidimensionele oorsig oor volhoubaarheid

Die QS Sustainability Ranking evalueer universiteite deur ’n prestasielens oor drie kernkategorieë heen. Dit is omgewingsimpak, maatskaplike impak en bestuur. Elke lens omvat verskeie aanwysers wat gesamentlik ’n universiteit se telling bepaal. Slegs instellings wat reeds in die QS World University Rankings, QS Regional Rankings of die QS Subject Rankings verskyn het, kwalifiseer.

Ons het besonder goed in omgewingsnavorsing presteer – ons sterkste lens onder omgewingsimpak – met ’n telling van 81,8. In die kategorie vir maatskaplike impak, het gesondheid en welstand as die universiteit se gebied met die hoogste telling na vore gekom, met 79. Ons het ook ’n sterk posisie in die kategorie van bestuur behaal, en is 246de in die wêreld (met ’n telling van 89,7), wat ons tussen die topvyf instellings in Suid-Afrika en sesde in die streek plaas.

Strategie dryf NWU tot wêreldwye uitnemendheid

Ons voortgesette sukses op internasionale ranglyste weerspieël die momentum wat deur ons strategiese prioriteite gegenereer word, wat internasionalisering, vennootskappe en betekenisvolle impak beklemtoon. Inisiatiewe soos die Desmond Tutu School of Medicine, die beoogde School of Mines and Mining Engineering, en die beoogde School of Veterinary Sciences dien as voorbeelde daarvan.

Hierdie ontwikkelings onderstreep die toewyding van die universiteit om wêreldwyd relevante, volhoubare oplossings te bevorder. Die positiewe uitkomste van hierdie strategiese fokus is duidelik in ons konsekwent goeie prestasie, wat ons posisie as ’n mededingende en impakvolle instelling – plaaslik en internasionaal – en as ’n vennoot van keuse in die hoëronderwyslandskap versterk.

Vir meer inligting oor ons voortgesette goeie prestasie op wêreldwye ranglyste hierdie jaar, besoek www.nwu.ac.za/rankings, of om meer oor die QS Sustainability Ranking te wete te kom, besoek https://www.topuniversities.com/sustainability-rankings.

Submitted on