NWU se waarnemende visekanselier ontvang internasionale toekennings vir uitmuntende navorsing

Die waarnemende visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), prof Linda du Plessis, stel sonder twyfel ’n voorbeeld nadat sy haar tweede doktorsgraad in 2020 ontvang het. Sy is ook deur twee internasionale akademiese instellings en verenigings vir die gehalte van haar studie geloof.

Nadat sy haar Doktoraat in Besigheidsadministrasie (DBA) aan die Universiteit van Bath in Engeland voltooi het, het Emerald Publishing Limited – ’n vakkundige uitgewer van akademiese tydskrifte en boeke op die gebied van bestuur, besigheid, opvoedkunde, biblioteekstudies, gesondheidsorg en ingenieurswese – aan haar die Emerald-toekenning vir uitmuntende doktorale navorsing (Emerald Award for Outstanding Doctoral Research) in 2020 gegee. Emerald Publishing Limited oorweeg kandidate wat hul studies in die afgelope drie jaar voltooi het.

Dit is duidelik dat prof Du Plessis se navorsing ’n gaping in die literatuur vul deurdat sy ondersoek gedoen het na die manier waarop universiteitsbestuurders tydens onbeplande radikale verandering aan die eis om legitimiteit vanaf interne en eksterne belanghebbers voldoen.

“Die ondersoek fokus op geïnstitusionaliseerde praktyke wat radikale verandering by Suid-Afrikaanse staatsuniversiteite teweeggebring het; die invloed van legitimiteitseise op universiteite se vermoë om radikale verandering te hanteer; en die identifikasie en heroorweging van rasionele mites tydens radikale verandering.  As gevolg van die kompleksiteit van die hoëronderwysomgewing en die betrokkenheid van veelvuldige hulpbronne en verhoudings met interne en eksterne belanghebbers kan ’n enkele teorie nie al die aspekte dek wat deur die radikale verandering geraak word nie,” sê Prof Du Plessis.

“Die ingeligte ontleding wat nodig is om sin te maak van die legitimiteit tydens radikale institusionele verandering verskaf insig vir toekomstige leiers oor die manier waarop verandering in ’n komplekse omgewing bestuur moet word, tesame met die veelvlakkige dinamiek van hoogs geïnstitusionaliseerde organisasies,” sê sy.  Onderwys word wêreldwyd beskou as sleutelbemagtiger vir die verskaffing van ’n beter toekoms vir die jeug en om ongelykheid te verminder. Die vierde volhoubare ontwikkelingsdoelwit van die Verenigde Nasies (VN) vra inklusiewe, billike en gehalte-onderwys vir almal. Die onderwerp wat prof Du Plessis gedek het – leierskap tydens ’n krisis – is belangrik, en tog word dit grootliks in hoëronderwysstudies nagelaat.

Waaroor gaan die toekennings vir uitmuntende doktorale navorsing eintlik?

Emerald sluit ’n vennootskap met die Higher Education Teaching and Learning Association (HETL) om buitengewone doktorale navorsing te erken en beloon. Hulle bied twee jaarlikse internasionale toekennings: die Emerald-toekenning vir uitmuntende doktorale navorsing en die Emerald/Higher Education Teaching and Learning Association se toekenning vir doktorale navorsing in opvoedkunde (Emerald/Higher Education Teaching and Learning Association Education Outstanding Doctoral Research Award).

Volgens Emerald is hulle doel om oplossings vir die ongelykhede regoor die wêreld te vind deur navorsers te ondersteun wat op hierdie gebied werk.

“Ons is trots daarop dat ons die wêreldwye navorsingsgemeenskap ondersteun deur ’n toekenningsprogram wat buitengewone doktorale navorsing erken wat die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte van die VN ondersteun. Hierdie doelwitte is ’n dringende oproep vir optrede deur alle lande om ’n beter en meer volhoubare toekoms vir almal te skep. Hulle hanteer die wêreldwye uitdagings wat ons ervaar, insluitende armoede, ongelykheid, klimaatsverandering, vrede en geregtigheid.”

Die Richard en Shirley Mawditt-prys

Asof hierdie prestasies nog nie genoeg is nie, het prof Du Plessis ook die Richard en Shirley Mawditt-prys vir uitmuntende prestasie in die DBA ontvang. Sy is op 28 April 2022 ingelig dat sy dié prys ontvang.

“Dit is my voorreg om u te laat weet – benewens u Doktoraat in Besigheidsadministrasie-kwalifikasie – u ook hierdie prys ontvang het, wat deur ’n paneel van die DBA- akademiese span toegeken is en deur ons Raad van Studies goedgekeur is,” sê prof Dan Davies, direkteur van die hoëronderwysbestuursprogramme van die Universiteit van Bath.

“Om hierdie toekennings te ontvang, is vir my ’n groot eer. ’n Mens twyfel dikwels aan jou vermoëns, maar hierdie onderwerp was iets wat my na aan die hart lê, en dit was so ’n verrykende ervaring. Ek wil graag my studieleier, prof Hong Bui, vir ongelooflike ondersteuning en bydrae tot hierdie studie bedank. Die waarde van die DBA het vele fasette.  Ek het nou nuwe waardering vir die belangrike rol wat studieleiers en promotors moet vervul om leiding en konstruktiewe akademiese advies te gee.  Die netwerke wat as gevolg van hierdie studie gevestig is, is ook van onskatbare waarde,” sluit prof Du Plessis af.

Dit is duidelik dat prof Du Plessis se vasberade en volgehoue bydraes tot die verskuiwing van grense wat internasionale akademiese uitnemendheid betref, wêreldwyd nie ongesiens verbygaan nie.

 

Submitted on Wed, 05/04/2022 - 09:01