NWU se voornemende geoktrooieerde rekenmeesters skitter

Ten spyte van die talle uitdagings wat studente tydens die Covid-19-pandemie moes te bowe kom, het die voornemende geoktrooieerde rekenmeesters by die Noordwes-Universiteit (NWU) besonder goed in hulle ITB (Aanvanklike Toets van Bevoegdheid) gevaar.

Die uitslae van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR ) plaas die NWU landwyd in die vierde plek uit 18 universiteite, met slegs een persent verskil tussen die tweede en vierde plekke.

Vyf-en-negentig persent van die NWU se kandidate wat die eerste keer die SAIGR-eksamen skryf, en 100% van die NWU se kandidate wat die eerste keer die ICAN-eksamen (Namibië) skryf, het die ITB-eksamen van April 2021 geslaag. Die gemiddelde landswye slaagkoers vir kandidate wat vir die eerste keer skryf, is 70%.

Wanneer alle kandidate in ag geneem word (nie net dié wat die eerste keer skryf nie), het die NWU die derde hoogste slaagkoers en die tweede hoogste totale punte vir die eksamen in die land gehad.

Volgens prof Nico van der Merwe, die programleier van Geoktrooieerde Rekenmeesterskap, het 124 kandidate van die NWU die SAIGR- en ICAN-eksamens geslaag. “Dit is verreweg die hoogste getal in die geskiedenis van die NWU en dit sal veilig wees om te sê dat ons nou as een van die ‘groot’ universiteite beskou word wat GR-getalle betref.”

Die NWU het twee top-10-kandidate van die SAIGR opgelewer, naamlik Christi-Ann Judeel (tweede) en Natasha de Wet (vyfde), asook twee top-5-kandidate van ICAN, Simaneka Shikongo (eerste) en Paulus Amuthenu (derde).

Nico sê hulle Thuthuka-studente (met SAIGR-beurse) het ’n 89%-slaagkoers gehad, en die NWU het 26 swart, bruin en Indiër-kandidate gelewer wat vir die eerste keer skryf en slaag – ook die hoogste getal in die geskiedenis van die NWU.

Hy het al sy kollegas by die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe bedank dat hulle as ’n span saamgewerk het om sulke wonderlike uitslae moontlik te maak.

Submitted on Fri, 07/16/2021 - 14:23