Die Fakulteit Opvoedkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) glo dat dit meer as net ’n gewone onderwyser verg om ’n betekenisvolle bydrae in die onderwyssektor te maak – ’n superonderwyser is nodig om Suid-Afrika se jongmense te help ontwikkel, te motiveer en op te voed.
Dit is waarom die universiteit sedert 2016 met ekskursies begin het en duisende eerstejaar-BEd-studente van die NWU se drie kampusse, asook afstandstudente, byeengebring het om hulle te inspireer, op te lei en met hulle te gesels oor wat dit beteken om in die beroep van ’n onderwyser uit te blink. Aangesien derde- en vierdejaar-BEd-studente as fasiliteerders optree, gee hierdie ekskursies daardie studente ook die geleentheid om hulle vaardighede as doeltreffende fasiliteerders verder te ontwikkel, wat hulle vir hulle toekomstige loopbane sal bemagtig.
Aktiwiteite gaan aanlyn en betrek ander fakulteite
Die NWU is besig om ’n innoverende nuwe benadering te volg sodat studente nie hierdie noodsaaklike en gewilde jaarlikse ekskursies as gevolg van Covid-19-beperkings misloop nie. Die eerste volledige virtuele ekskursies sal van 16 Augustus tot 28 September plaasvind en sal vir die eerste keer, as ’n loodsprojek, ook studente van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe en die Fakulteit Regte betrek.
Prof Josef de Beer, navorsingsprofessor by die Navorsingseenheid vir Selfgerigte Leer (SGL) in die Fakulteit Opvoedkunde, en prof Neal Petersen, adjunkdirekteur van die Skool vir Wiskunde-, Wetenskap- en Tegnologieonderwys en ’n navorser in SGL, die twee hooforganiseerders, sê dat 2 500 opvoedkundestudente, 600 regstudente en 300 gesondheidsorgstudente sal deelneem aan die virtuele ekskursies, wat op die spesifieke behoeftes van elkeen van die drie fakulteite sal fokus.
Josef en Neal sê een van die vernaamste voordele van die ekskursies is dat hulle die universiteit help om die unitêre gevoel van samehorigheid onder studente te verhoog. “Ons gebruik nuwe sagteware wat studente lukraak uit ons verskillende kampusse kies en hulle in nuwe verteenwoordigende groepies van vyf plaas.”
Studente kry dan die geleentheid om te ervaar wat dit beteken om ’n NWU-student te wees deur met hulle eweknieë te verkeer sonder dat hulle aan ’n bepaalde kampus verbind is. Op hierdie manier leer hulle by mekaar en kan hulle die mure afbreek van vooropgestelde stereotipes wat hulle dalk kan hê. Die ekskursies maak studente ook sensitief vir die belangrikheid van selfgerigte leer en die stel van persoonlike leerdoelwitte vir hulleself.
Josef sê dat hulle deur die toekenning vir die universiteit se kapasiteitsontwikkelingsprogram die ekskursie-aanbieding hierdie jaar na ander fakulteite kan uitbrei. “Dit het ons ook in staat gestel om aan elke deelnemende student 10 GB data te gee om te verseker dat hulle die opwindende aktiwiteite op hulle studiegebiede wat deel van die ekskursies vorm ten volle te ervaar.”
Breek die mure van vooroordeel af
Josef en Neal verduidelik dat daar ’n aantal hardnekkige probleme is wat hoër onderwys, en spesifiek die NWU, moet hanteer. Hierdie twee navorsers sê die ekskursies is een manier om dit te doen.
Hierdie probleme sluit in dat – soos navorsing getoon het – talle eerstejaarstudente dikwels ’n naïewe begrip het van die eise wat bestaan om op tersiêre-onderwysvlak te studeer, asook van die werksomgewing wat hulle sal moet betree. Die ekskursies stel hulle bloot aan scenario’s waarin onderwysers hulleself kan bevind en stel hulle deur portuurgroepgesprekke in staat om oplossings daarvoor te vind.
“Navorsing beklemtoon ook die noodsaaklikheid om selfgerigte leer in opvoedkundige programme te bevorder. Die ekskursies gebruik strategieë soos probleemgebaseerde en samewerkende leer, wat die potensiaal het om selfgerigte leer te bevorder. Dit beklemtoon ook hoe belangrik dit is om selfgerigte leer in hulle loopbane voort te sit.”
De Beer sê die ekskursies bied ook aan dosente die geleentheid om studente sensitief te maak vir hulle eie vooroordele, wat ’n groot struikelblok is wanneer hulle met uiteenlopende leerders in skole werk. “Ons woon in ’n land wat deur geslagsgebaseerde geweld, diskriminasie, homofobie en ander maatskaplike euwels geteister word, en die ekskursies skep die ideale platform om sulke kwessies in die informele kurrikulum te hanteer.”
Speletjies en aktiwiteite boots werklike uitdagings in die wêreld na
Die speletjies en aktiwiteite bied aan studente ’n geleentheid om nie net met mekaar te skakel nie, maar ook om werklike uitdagings na te boots.
Tydens die speletjie Hongersnood en Oorvloed, ontvang studente byvoorbeeld virtuele geld en digitale paspoorte, wat van hulle virtuele burgers van óf ryk óf arm lande maak. Volgens Josef en Neal ervaar talle studente die speletjie as ’n ontnugtering wanneer hulle besef hoe groot die kloof is tussen dié wat baie het, en dié wat niks het nie. “Vir talle van hulle is dit die eerste keer dat hulle besef hoe moeilik dit is vir mense om in arm omstandighede te oorleef. Hulle kan eerstehands die verskil tussen hongersnood en oorvloed ervaar, en wat dit vir onderwysers in diverse klaskamers beteken.”
Boeke dokumenteer bevindings oor ekskursies
Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding het befondsing goedgekeur vir ’n reeks AOSIS-boeke wat deel sal vorm van die boekereeks oor selfgerigte leer.
Die boeke sal fokus op die bevindings van navorsing oor die eerstejaarsekskursies van al drie die deelnemende fakulteite van die NWU.
Die eerste boek sal in 2021 geskryf word en sal fokus op die moontlikhede en voordele van sulke virtuele ekskursies. Die boek sal deur Josef, Neal, Prof Robert Balfour, adjunk-visekanselier vir Onderrig en Leer, en prof Elsa Mentz, direkteur van die Navorsingseenheid vir Selfgerigte Leer ,geredigeer word.
Die ander twee boeke sal onderskeidelik in 2022 en 2023 voltooi word.
Die redakteurs van die boeke oor die navorsing oor die ekskursies is prof Josef de Beer, prof Robert Balfour, prof Neal Petersen en prof Elsa Mentz. Hier vertoon hulle trots hulle superonderwyser-T-hemde.
Elke deelnemende student ontvang per koerier ’n superonderwyser-T-hemp as aandenking.