NWU se Tegnologie-oordrag en Innovasie-ondersteuningskantoor maak gereed vir ’n baanbreker-2024

Terwyl ons die jaar 2024 aanpak, is die Noordwes-Universiteit (NWU) se Tegnologie-oordrag en Innovasie-ondersteuningskantoor (TTIS-kantoor) besig om vir ’n opwindende jaar van samewerking voor te berei, met navorsers wat gretig is om die reikwydte van hulle navorsing verder as die akademie te laat strek. Die TTIS speel ’n belangrike rol in die ondersteuning van navorsers om hulle akademiese bevindings om te skakel in praktiese oplossings wat ’n tasbare impak op die samelewing kan maak. Navorsers word aangemoedig om die NWU se Uitvinderspoort te benut – ’n toegangspunt om die kommersialiseringsproses aan die gang te sit en die universiteit se reputasie as ’n kern vir baanbrekernavorsing en innovering te versterk.

Mnr Johann Coetzee, Bestuurder: Intellektuele Eiendom en Kontraktering sê: “Deur die tydige bekendmaking van nuwe en vindingryke intellektuele eiendom (IE) aan die TTIS kan die IE doeltreffend beskerm word en die navorsers se kommersialiseringsaktiwiteite kan ondersteuning ontvang. Dit sal hulle in staat stel om te deel in die voordele wat uit die kommersialisering van die IE verkry word.”

Die NWU is deur die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (KMIE) uitgenooi om in 2024 die gasheer vir die Wêreld IE-dag te wees. Verskillende aktiwiteite word vir 25 en 26 April 2024 beplan, met die TTIS wat die leiding neem in samewerking met die KMIE en vennootskapsorganisasies soos die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging, die Departement van Wetenskap en Innovasie, die nasionale Kantoor vir die Bestuur van Intellektuele Eiendom, die Tegnologie-innovasie-agentskap, en die Kleinsake-ontwikkelingsagentskap. Die aanbieding van hierdie hoogaangeskrewe gebeurtenis beklemtoon die NWU se onwrikbare toewyding om, as ’n bemagtiger van innovasie, intellektuele eiendom te beskerm.

Om innovasie verder te ondersteun, gaan die TTIS kwartaalliks ’n innovasie-inburgeringsessie vir pasaangestelde akademiese personeel hou. Die doel van hierdie inisiatief is om aan die begin van hulle navorsing- en innovasiereis by die NWU aan nuwe personeel ondersteuning te verskaf deur ’n bewustheid te kweek vir die identifikasie en beskerming van IE en hulle bewus te maak van roetes wat vir tegnologie-oordrag en kommersialisering bestaan.

Die TTIS gaan voort met sy Koffieveldtog, wat aan die einde van 2023 bekendgestel is en wat navorsers en innoveerders aanmoedig om informeel te vergader en oor ’n koppie koffie met die TTIS-span te gesels.

Vir navorsers wat belangstel om hierdie geleenthede te ondersoek en met die TTIS-kantoor te skakel, is ’n eenvoudige stap om per e-pos by techtransfer@nwu.ac.za kontak te maak

Besoek: https://services.nwu.ac.za/technology-transfer-and-innovation-support/t…

Submitted on Thu, 02/01/2024 - 12:41