NWU se rekeningkunde-intervensie vir skole: van onderpresteerders na top van die klas

In 2015 het verskeie skole in die Fezile Dabi-onderwysdistrik (Noord-Vrystaat) in die NSS-eksamen ’n 0%-slaagsyfer vir rekeningkunde behaal.

As gevolg van ’n intervensieprogram deur die Noordwes-Universiteit (NWU) spog die distrik vandag nie net met die eerste plek in die provinsie nie, maar ook op nasionale vlak. Laasgenoemde is ook in 2018 bereik.

In sy reaksie op die aankondiging van die distrik se posisie het dr Vusi Chuta, die direkteur van die Fezile Dabi-distrik, die NWU se kampus in Vanderbijlpark geloof vir sy toewyding tot hierdie produktiewe vennootskap.

Nuwe jaar, nuwe uitdagings

In 2019 sal hierdie geslaagde intervensieprojek ’n nuwe baadjie kry en as die NWU Sedibeng Rekeningkundeprojek bekend staan.

Die Sedibeng-onderwysdistrik bestaan uit twee dele, naamlik Sedibeng-Oos (D7) en Sedibeng-Wes (D8). Hierdie dele sluit saam die volgende areas in: Daleside, Heidelberg, Henley on Klip, Jameson Park, Meyerton, Rensburgdorp, Rotanda, Sharpeville, Vereeniging, Walkerville, Evaton, Loch Vaal, Vanderbijlpark, Sebokeng, Palm Springs, Bophelong en Boipatong.

Volgens Beitske van der Niet, ’n dosent aan die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe en die programkoördineerder, sal die projek hierdie jaar spesifiek op vaardigheidsopleiding vir rekeningkunde-onderwysers vir graad 10- tot 12-leerders fokus. Dit sal op sy beurt ’n bydrae tot die oorkoepelende prestasie van leerders tydens die NSS-eksamen lewer. Daar word verwag dat meer as 40 onderwysers sal deelneem aan die werkswinkels wat op Saterdae by die kampus in Vanderbijlpark aangebied sal word.

Personeel daartoe verbind om ’n impak te maak

Volgens Beitske is die kollegas van die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe ten volle verbind daartoe om die projek te laat slaag en bevorder dit met trots deur hulle tyd vryelik te gee en hulle kundigheid met die onderwysers te deel.

Beitske glo dat leerders slegs geïnspireer sal word om lief te raak vir rekeningkunde as hulle eers die basiese begrippe van die vak verstaan. “Ons doel is om deur hierdie inisiatief onderwysers te bemagtig om die vak te bevorder en sodoende die volgende geslag van professionele rekenmeesters te bemagtig,” sê sy. Dit sal weer daartoe by dat die dringende behoefte aan gekwalifiseerde professionele rekenmeesters en ander finansiële kundiges in Suid-Afrika proaktief aandag sal ontvang.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Submitted on Fri, 02/01/2019 - 12:33