NWU se Leopard’s Lair-kompetisie: aandag alle jong entrepreneurs

Het jy wat nodig is om die luiperd in sy lêplek aan te durf en jou man (of vrou) as jong entrepreneur te staan? Het jy ’n sake-idee wat baie vernuwend is? Beskou jy jouself as ’n innoveerder? Indien wel, is die Noordwes-Universiteit (NWU) se gewilde Leopards Lair-kompetisie net die ding vir jou!

Die kompetisie word hierdie jaar die vierde keer aangebied, en studente van regoor die NWU se geografiese voetspoor – en hulle eweknieë van die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT) – tree na vore en bied hulle entrepreneursidees aan met die hoop om hulle sakedrome te verwesenlik. Deur hierdie kompetisie word studente ook gemotiveer om toekomstige werkgewers en gevolglik werkskeppers te word deur die waarde van entrepreneurskap as ’n loopbaankeuse te besef.

Meer oor die kompetisie

Aan die hoof van die kompetisie is die NWU se bhive EDC, en die kompetisieformaat is gegrond op soortgelyke nasionale en internasionale sake-uitdagings soos Shark Tank en Dragon’s Den. Die kompetisie strek oor twee semesters om deelnemers genoeg tyd te gee om aan hulle sake-aanbieding te werk, terwyl hulle baat by verskeie werkswinkels wat daarop gemik is om hulle akademiese en praktiese begrip van entrepreneurskap te verbeter.

Die kompetisie sal oor verskeie rondtes beslis word, waartydens die deelnemers die geleentheid het om hulle telkaarte te bestudeer sodat hulle hulle prestasie kan moniteer. In die eerste rondte van die kompetisie sal ’n totaal van 80 studente – wat al drie die NWU se kampusse sowel as die VUT verteenwoordig – gekies word om deel te neem.

Hierdie deelnemers sal dan hulle idee of konsep voorlê, waarna 40 studente genooi sal word om aan die sakemodel-fase van die kompetisie deel te neem. Twintig studente sal na die volgende rondte deurdring, waartydens hulle ’n video-aanbieding moet saamstel en teen mekaar te staan kom. Van daar af sal die topdeelnemers voor ’n onafhanklike paneel van sake-eienaars, beleggers, suksesvolle entrepreneurs en akademici verskyn om om ’n plek op die wennerspodium mee te ding.

Moenie wag nie. Skryf vandag in!

Voorgraadse en nagraadse entrepreneurs word genooi om hulle innoverende en sake-idees voor middernag op 22 Mei 2020 voor te lê. Vir inligting en om vir die kompetisie te registreer, besoek: http://commerce.nwu.ac.za/bhive-EDC.

Submitted on Tue, 04/28/2020 - 09:46