NWU se Leopard’s Lair-kompetisie – sperdatum vir inskrywings kom nader _

Die sperdatum vir inskrywings vir die 2020-weergawe van die Noordwes-Universiteit (NWU) se gewilde Leopard’s Lair-besigheidskompetisie kom nader, en alle studentepreneurs word uitgenooi om deel te neem.

As jy meen dat jy ’n innoveerder met ’n unieke besigheidsidee is, is hierdie kompetisie net vir jou, en bied jou die geleentheid om jou besigheidsdrome waar te maak.

Meer oor Leopard’s Lair

Dit is hierdie jaar die vierde keer dat die kompetisie aangebied word en daar sal studente wees van regoor die NWU se geografiese voetspoor – asook hulle medestudente van die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT) – wat na vore tree en hulle entrepreneursidees kom voorlê met die hoop om hulle besigheidsdrome waar te maak. Studente word ook deur die kompetisie gemotiveer om toekomstige werkgewers en werkskeppers te word deurdat hulle die waarde van entrepreneurskap as loopbaankeuse besef.

Die NWU se bhive EDC is aan die stuur van die kompetisie. Die formaat van die kompetisie is op soortgelyke nasionale en internasionale besigheidsuitdagings soos Shark Tank en Dragon’s Den gebaseer.

Voorgraadse en nagraadse entrepreneurs moet voor die einde van Julie inskryf deur die volgende webwerf te besoek: http://commerce.nwu.ac.za/bhive-enterprise-development-centre/leopards-lair-business-competition .

 

Submitted on Thu, 07/09/2020 - 05:40