NWU se korporatiewe publikasies word vir uitmuntendheid geloof

Die personeelnuusbrief van die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs die internasionale arena betree toe dit ʼn toekenning vir uitnemendheid ontvang het tydens die Silver Quill-toekenningseremonie van die International Association of Business Communicators (IABC) Africa Region.

Die Mei 2023-uitgawe van die publikasie, life@NWU, het ’n Silver Quill-toekenning in die kategorie vir publikasies verower.  

Nie lank voor hierdie vreugdevolle geleentheid nie, het die NWU se publikasies ook nasionaal uitgeblink.

Daar was uitroepe van vreugde – ’n hele 18 keer – van die afvaardiging van die Korporatiewe Verhoudinge en Bemarking-afdeling van die Noordwes-Universiteit (NWU) elke keer as NWU-publikasies ’n toekenning van Marketing, Advancement and Communication in Education (MACE) by die 2023-toekenningseremonie opgeraap het.  

Tydens hierdie glansryke galageleentheid in Kaapstad se Pigalle Restaurant op 16 November het MACE erkenning gegee aan die prestasies van praktisyns in bemarking, kommunikasie en vordering in die hoëronderwyssektor regoor Suid-Afrika verleen.

ʼn Besondere groot uitroep van vreugde het opgeklink toe die NWU ’n platinumtoekenning ontvang het vir sy Geïntegreerde Verslag vir 2021 as die wenner in die kategorie Ontwerp vir Digitale Media. Hierdie geïntegreerde verslag het ook vir die NWU twee silwertoekennings vir skryfwerk besorg.

Nog tien silwertoekennings is aan verskillende uitgawes van die NWU se personeelnuusbrief , alumnitydskrif en navorsingsnuusbrief toegeken. Hierdie publikasies het ook vyf bronstoekennings ingepalm.

Die NWU se korporatiewe publikasies het ook by hierdie jaar se kompetisie van die Suid-Afrikaanse Publikasieforum geskitter. Die NWU het in hierdie kompetisie teen groot korporatiewe instellings soos Sanlam, Toyota en Stad Kaapstad te staan gekom. Die uitslae van hierdie kompetisie is op 6 November 2023 aanlyn gedeel.

In hierdie kompetisie was al die NWU se inskrywings finaliste in die kategorieë waarvoor hulle ingeskryf het, met die April 2023-uitgawe van die personeelnuusbrief, life@NWU, wat bewys het dat dit by die groot mededingers op hierdie gebied kan kers vashou. Die April 2023-uitgawe van hierdie nuusbrief het derde gekom in die kategorie Interactive Digital Publications, net ná Sanlam Connect, wat tweede gekom het, en Nutun Ngage, wat die wenner van die kategorie was.

Die toekennings in hierdie kompetisies bevestig die voorlopige terugvoer van ’n eweknie-evaluering oor gehalte van die Korporatiewe Verhoudinge en Bemarking-afdeling vroeër hierdie jaar. Tydens hierdie evaluering het ’n paneel van kommunikasiekundiges in hulle voorlopige verslag gesê die NWU se korporatiewe publikasies is “van ’n baie hoë standaard”.

....

Hoera! ’n Uitbundige Lebogang Moumakwe, junior aanlyn inhoudontwikkelaar van Korporatiewe Kommunikasie, wys een van die toekennings wat hy namens die NWU ontvang het.

 

...

Evashni Jansen van die NWU se webkantoor ontvang een van die NWU se toekennings van MACE-raadslid Sbongiseni Magwaza.

....

Nog een vir die NWU … MACE-raadslid Thembi Tlale oorhandig een van die toekennings aan Karen Tredoux, ’n fakulteitskakelbeampte, gedurende die galageleentheid.

Submitted on Thu, 11/23/2023 - 11:14