NWU se kanselier met leeftydprestasietoekenning vereer

Die kanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), dr Anna Mokgokong, het ’n leeftydprestasietoekenning tydens die 20ste jaarlikse Top Women Awards in Sandton ontvang.

Dr Mokgokong, wat ’n passievolle sosiale aktivis en voorstaander vir die bemagtiging van vroue en transformasie is, het die toekenning tydens ’n luisterryke toekenningseremonie op 7 November ontvang.

“As ’n vrou in ’n samelewing wat deur mans oorheers word, moes ek sukkel om my pad te vind en my teenwoordigheid in die besigheidswêreld te laat geld,” sê dr Mokgokong. “Suid-Afrika is ’n merkwaardige land, en sy mense verdien om in die belonings van rykdom te deel. Ons moet saam die grense afbreek wat ons terughou en onverpoosd werk om ’n samelewing te skep waar almal, ongeag ras, geslag of agtergrond, kan floreer. Ek dra hierdie toekenning op aan die vegters vir vryheid, my familie, my ouers wat alles wat hulle gehad het opgeoffer het om my en my vyf broers en susters skool toe te stuur – dit is vandag ook vir hulle ’n trotse oomblik – asook aan elke vrou wat gewaag het om te droom.”

Die Top Women Awards is ’n jaarlikse gebeurtenis wat deur Top Media and Communications (Edms.) Bpk. (Topco Media) in vennootskap met Standard Bank aangebied word. Dit vier die prestasies in verskillende kategorieë van vroueleiers en organisasies wat vroue bemagtig. Hierdie akkolades sluit individuele toekennings vir vroue in kategorieë soos professionele en ondersteuningsdienste, eiendom, die openbare sektor, besigheid en entrepreneurskap in.

“’n Vooraanstaande paneel beoordelaars van Top Women kies elke jaar ’n vrou vir die leeftydprestasietoekenning op grond van haar bydrae om ’n genderinklusiewe nasie te skep. As samelewing is ons diep dankbaar vir die wyse waarop dr Mokgokong haar loopbaan aan die onderwys, die kwessies van menseregte, maatskaplike geregtigheid en, die belangrikste, die bemagtiging van vroue toegewy het,” sê Ralf Fletcher, hoof- uitvoerende beampte van Top Media and Communications (Edms.) Bpk.

Vorige ontvangers van die gesogte leeftydprestasietoekenning sluit in die voormalige presidentsvrou Zanele Mbeki, Mary Twala, Yvonne Chaka Chaka, die voormalige Openbare Beskermer Thuli Madonsela, die anti-apartheidsaktivis Sophia Williams-De Bruyn, Graça Machel en die veteraanjoernalis Juby Mayet.

Dr Mokgokong is geen vreemdeling as dit by toekennings kom nie. Sy het al talle toekennings vir haar werk as gemeenskaps- en sakeleier ontvang, onder andere die Women who Make a Difference-toekenning van die International Women’s Forum in 2022. Sy is in 2019 as die NWU se kanselier ingehuldig.

....

Dr Anna Mokgokong, die NWU se kanselier, is hierdie jaar se ontvanger van die Topco Media en Standard Bank Lifetime Achievement Award.

Submitted on Mon, 11/13/2023 - 08:33