NWU se IKS-sentrum en Wits Universiteit werk saam om inheemse paleokennis te ondersoek

Die Inheemse Kennisstelselsentrum (IKS-sentrum) van die Noordwes-Universiteit (NWU) het ’n vennootskap met Wits Universiteit gesluit om paleontologienavorsing in die Karookom te doen.

Die span van die IKS-sentrum bestaan uit prof Simeon Materechera, ’n senior professor en navorsingsleier vir die NWU-span, en Otsile Maditsi, ’n dosent by die sentrum. Hulle werk saam met die Witsspan om die inheemse kennis wat met paleontologie verband hou, te ondersoek.

Die IKS-sentrum sal fokus op die inheemse paleokennis, wat bestaan uit geomitologie wat met paleontologie verband hou.

Otsile sê twee vierdejaar-IKS-studente sal ook deelneem aan hierdie baanbrekenavorsing, wat die eerste van sy soort in IKS is. 

“Inheemse kennis van paleowetenskappe verwys na ’n korpus kennis wat inherent aan die plaaslike mense is of deur hulle verwerf is, en deur geslagte heen as geomitologieë deurgegee is (byvoorbeeld gelowe wat met geologiese formasies of verskynsels verband hou), en volksverhale wat met fossiele verband hou,” verduidelik hy.

“Hierdie projek sal gegrond wees op die opvatting dat om inheemse kennis in hoofstroom- wetenskaplike navorsing te plaas, sal help om nuwe kennis wat gesamentlik verkry word, te help skep.”

Otsile sê opnames van inheemse kennis in Noord-Amerika, Europa en Asië het getoon dat kennis van beenbeddings en fossielvoetspore tradisioneel onder gemeenskappe deurgegee is, en dat paleontoloë wat dit in ag neem, fossielryke plekke ontdek het wat nuwe inligting vir die wetenskap verskaf het.

“’n Onlangse literatuuroorsig waarby ons span betrokke was, toon dat Afrika ook ’n diep prekoloniale geskiedenis van paleowetenskappe het. Dus is daar geen twyfel dat hierdie poging – as dit op gemeenskappe in die Karoo van toepassing gemaak word – ’n diverse fossielverwante volksoorlewering en ryke geomitologie sal blootlê nie.

“Hierdie inheemse paleokennis moet vir toekomstige geslagte gedokumenteer en opgeteken word, en soos op ander vastelande, sal dit ’n bydrae lewer dat nuwe fossielterreine ontdek word,” sê Otsile.

Hy sê dat ’n ondersoek van Karoo-gemeenskappe se geomitologie en fossielverwante volksoorlewerings gemeenskapsbetrokkenheid sal stimuleer. As plaaslike owerhede by hierdie langtermyn- samewerkende navorsing betrek word, sal dit ook help om paleotoerisme te ontwikkel en uiteindelik werksgeleenthede in verarmde landelike gebiede te skep.

“Deel van hierdie projek sal daarin gewy word om inheemse kennis te dokumenteer, te bewaar en te bevorder. Die ondersoekfase van hierdie projek sal aangevul word deur ’n deeglike ondersoek van die plaaslike kennis van fossieldraende terreine in die gebiede waar daar navorsing gedoen word,” sê Otsile.

“Die fossielrykheid van die Karoo geniet internasionale erkenning sedert die vroeë dae van die totstandkoming van paleontologie as wetenskap, en selfs vroeër deur inheemse mense van prekoloniale kulture wat van hierdie talryke en opsigtelike bene versamel het lank voordat hulle wetenskaplike belang deur Westerse wetenskaplikes erken is.

“Kennis van die plekke, volksoorlewerings, stories en tradisies wat lankal bestaan het en met hierdie fossiele verband hou, en die manier waarop hierdie kennis oorgedra is, sal opgeteken word tydens onderhoude en deur argiewe te raadpleeg. Dit sal help om die ligging te vind van nog terreine wat nog nie geidentifiseer is nie, om gemeenskappe in staat te stel om erkenning te ontvang vir die ontdekkings wat gemaak word, en om ’n sinvolle studie van hierdie fossiele moontlik te maak,” sluit Otsile af.

....

Mnr Otsile Maditsi

....

Prof Simon Materechera

Submitted on Thu, 04/28/2022 - 07:48