NWU se HART hou bloeddruk in toom

Die Hipertensie in Afrika Navorsingspan (HART) in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) doen sy deel om bloeddrukbewustheid en ‑meting gedurende die hele Meimetingsmaand (MMM) en op Wêreldhipertensiedag op 17 Mei te bevorder.

HART ondersteun die Meimetingsmaand van 2021 deur verskeie projekte wat spesifiek gerig is daarop om die algemene publiek aan te moedig om hulle bloeddruk te laat meet. Hierdie sifting is ’n gratis diens wat die ideale geleentheid verskaf om uit te vind wat jou bloeddrukvlak is en om uit te vind hoe jy kan voorkom dat jy nog ’n dodelike hipertensiestatistiek word.

Die aktiwiteite het op 1 en 2 Mei met die #ProPotch NWU-avontuurnaweek by Lekwena begin en sal in middel-Mei met verskeie bloeddruksiftings in openbare plekke in en om Potchefstroom, asook in Mahikeng aan die einde van Mei en in die Vaaldriehoek in Junie, voortgaan.

HART sal siftings by koffiewinkels, in inkopiesentrums en by die Potchefstroomse Dienssentrum aanbied.

Prof Carina Mels, direkteur van die Hipertensie in Afrika Navorsingspan (HART), sê dat hulle mense in alle dele van Suid-Afrika vra om uit te vind hoe en waar hulle getoets kan word. Dit kan gedoen word deur https://maymeasure.org te besoek.   “Hulle sal hier ’n interaktiewe kaart kry wat vir hulle wys waar hulle plaaslike siftingsentrum is en ook hoe hulle die toets tuis self kan doen.”

Meer oor MMM

2021 is die vierde jaar waarin die Internasionale Vereniging vir Hipertensie (ISH) die wêreldwye Meimetingsmaand aanbied – ’n wêreldwye veldtog wat ten doel het om mense van hoë bloeddruk bewus te maak.  

Die ISH sê dat verhoogde bloeddruk, of hipertensie, die grootste enkele risikofaktor is wat vir sterftes wêreldwyd verantwoordelik is. Daar word beraam dat in Suid-Afrika alleen een uit elke drie volwassenes verhoogde bloeddruk het. Dit kan tot ernstige langtermynkomplikasies lei as dit nie behandel word nie.

Volgens die ISH is die meeste mense met hipertensie óf heeltemal onbewus daarvan en word dit onbehandeld gelaat, óf hulle is op behandeling wat nie hulle toestand doeltreffend beheer nie.  Die toestand het geen waarneembare simptome nie en bloeddrukmeting is die enigste akkurate manier om hipertensie te identifiseer.

Vrywilligers sal vanaf Mei tot aan die einde van die jaar die bloeddruk van mense in die stede, dorpe en klein dorpies wêreldwyd meet. Prof Mels sê dat HART trots is daarop om deel van Meimetingsmaand in Suid-Afrika te wees. “Ons wil hê dat alle deelnemers moet weet wat hulle bloeddrukvlakke is en enigeen wat geregistreer word as dat hulle hoë bloeddruk het, ontvang raad oor wat hulle te doen staan.”

As gevolg van die Covid-19-pandemie het die internasionale kantoor van MMM besluit om ná Mei tot in Oktober met die veldtog vir bloeddrukmeting voort te gaan.

Meet jou bloeddruk op hierdie dae:

Toro-koffiewinkel – 14, 21, 28 Mei

Die Koeltetuin – 15 Mei

NWU-amfiteater – 17 Mei (Wêreld-hipertensiedag)

Dienssentrum vir bejaardes – 18 Mei

NWU se kampus in Mahikeng – 26 Mei, in samewerking met Leefstylsiektes en prof Useh

NWU se kampus in Vanderbijlpark – 23 Junie

Ikageng Mall – datum sal aangekondig word

Vir meer inligting oor sifting in en om Potchefstroom, Mahikeng en Vanderbijlpark, kontak asseblief Carina.Mels@nwu.ac.za.

Submitted on Wed, 05/12/2021 - 11:42