NWU se Geoktrooieerde Rekenmeesterskap-studente blink uit in 2024 ITC

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het weer eens sy toewyding getoon om kundiges in geoktrooieerde rekenmeesterskap te produseer, soos dit uit die uitmuntende uitslae van sy studente in die onlangse eksamen van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) en die Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters van Namibië (ICAN) se Aanvanklike Toets van Bevoegdheid (ITC) geblyk het.

Volgens die jongste ITC-eksamenuitslae het die NWU se kandidate buitengewone prestasies behaal. Van die NWU se kandidate het 97% die eksamen geslaag, wat die instelling een van die toppresteerders maak onder die 18 instellings in die land wat deelgeneem het. Die nasionale gemiddelde slaagsyfer was 67%. Daarbenewens het 100% van die NWU se ICAN-kandidate die eksamen geslaag.

Die uitnemendheid van die NWU se studente is verder beklemtoon deur hulle verteenwoordiging in die SAIGR se top-10, met twee kandidate wat hierdie gesogte erkenning ontvang het. Hierdie twee kandidate het met onderskeiding geslaag, wat hulle buitengewone vermoëns demonstreer. Die NWU het oorkoepelend vyf kandidate geproduseer wat met onderskeiding geslaag het – ’n merkwaardige prestasie as ’n mens die baie streng standaard van die eksamen in ag neem. Meer as 2 500 kandidate het die eksamen nasionaal geskryf, van wie slegs 24 met onderskeiding geslaag het. Die NWU se sukses strek ook verder tot by ICAN, met drie van sy kandidate wat onder die top-5 val en wat almal onderskeidings behaal het.

Prof Heleen Janse van Vuuren, die direkteur van die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe aan die NWU se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurwetenskappe, skryf hierdie uitmuntende uitslae aan die instelling se toewyding tot akademiese uitnemendheid en die toewyding van sy dosente toe. Sy beklemtoon die belangrikheid van geoktrooieerde rekenmeesters om ekonomiese groei te help bevorder en om die finansiële uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, die hoof te bied.

Janse van Vuuren beklemtoon die NWU se rol in die bydrae tot ’n beter toekoms vir alle Suid-Afrikaners deur sy fokus om hoogs opgeleide vakkundiges te produseer wat ’n betekenisvolle bydrae tot die ekonomie kan lewer.

Ter opsomming weerspieël die NWU se voortgesette sukses in die produsering van gegradueerdes met topprestasies in Geoktrooieerde Rekenmeesterskap sy toewyding aan uitnemendheid in opvoeding en sy bydrae tot die ontwikkeling van Suid-Afrika se ekonomiese landskap.

Submitted on Fri, 04/12/2024 - 09:02