NWU se Fanie Roos gaan PGA-SA-klasse aanbied

Fanie Roos, ’n dosent in Sportbestuur aan die Noordwes-Universiteit (NWU) is baie ernstig oor gholf – op die baan asook in die lesinglokaal.

Fanie het twee jaar gelede die hoofopskrifte gehaal toe hy die eerste NWU-akademikus was wat die gesogte Professionele Gholfspelersvereniging van Suid-Afrika (PGA-SA) toegespreek het, en sedertdien is hy nóú betrokke by hierdie vereniging.

In 2019 is hy genomineer as Afrigter van die Jaar in die Gauteng-sentraalstreek en hy gaan hierdie jaar die rol van gholfdosent en -assesseerder vir die PGA-SA se leerlingprogram speel.

Volgens Fanie, wat reeds drie aanlyn onderrigsessies aangebied het, gaan hy help om die volgende vakke vir jaar 1- en jaar 2-studente aan te bied: Inleiding tot Afrigting, Sessiebeplanning en Afrigting, Langtermynontwikkeling vir Atlete, en Afrigting vir Kinders.

Van die gholfbaan na die lesinglokaal

Fanie is tans besig om navorsing vir sy doktorale tesis oor gholf te doen. Sy fokusarea is die ontwikkeling en ondersteuning van jong spelers.

Vir sy meestersgraad het hy gefokus op die bestuur van ʼn speler se vordering vanaf junior- na professionele vlak. Lees gerus meer oor die verhandeling: http://hdl.handle.net/2263/70479

Hy het 15 jaar gelede sy afrigtersloopbaan begin en is ’n professionele klas AAA PGA-speler. Na ’n skof as onderwyser by die Emfulenipark Laerskool, het hy in 2014 sy akademiese loopbaan as ’n lektor aan die NWU begin.

Fanie Roos

 

Submitted on Mon, 05/25/2020 - 11:01