NWU se Avuyile span sy spiere soos die held van sy kindertyd – Arnie

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Avuyile Ndzimela leef sy droom uit om ’n topliggaamsbouer te wees, en daarmee bring hy op meer as een manier hulde aan die held van sy kindertyd, Arnold Schwarzenegger. 

Soos sy held blink die 21-jarige BA-student in Publieke Administrasie en Regeerkunde op die Vanderbijlparkkampus nie net in mededingende liggaamsbou uit nie, maar sy visier is ook daarop ingestel om ’n politikus te word nadat hy volgende jaar sy graad gekry het.

“My liefde vir liggaamsbou het begin toe ek 14 jaar oud was. Ek is op daardie stadium deur Arnold Schwarzenegger geïnspireer, en my droom was om eendag so fiks en gespierd soos hy te wees. Die kampus se liggaamsbou-afrigter het my in 2018 op die kampus raakgesien en gesê dat ek by die gim by hom moes aansluit.  Die res is, soos hulle sê, geskiedenis.”

Tot op hede is Avuyile die eerste NWU-student om twee afdelings gedurende dieselfde kompetisie te wen.

 “My langtermyndoelwit is om teen die ouderdom van 25 jaar my IFBB- professionele kaart te verwerf en om ’n borg te kry om my te help om my liggaamsboudrome ’n werklikheid te maak,” sê Avuyile.   

Ten spyte daarvan dat hy ’n genetiese predisposisie vir liggaamsbou het, is hy daarvan oortuig dat die regte ingesteldheid en ’n toegewyde werksetiek ononderhandelbaar is as jy nie net in sport nie, maar ook in die lewe wil uitblink. “Jou brein is waarskynlik die sterkste spier wat jy het, en jy moet dit gedurigdeur oefen. ’n Sterk geestelike fiksheid stel jou in staat om met elke oefening meer uit jouself te haal, en dit help jou om deur plato’s te breek.”

Sy droom om die held van sy kinderdae, Arnold Schwarzenegger, te ontmoet, het amper waar geword toe hy genooi is om aan die 2020 Arnold Classic Africa-toernooi deel te neem. Die geleentheid is egter as gevolg van die wêreldwye Covid-19-uitbreking gekanselleer.

Voor kompetisies is hy ses keer per week vier uur per dag in die gim.

 

Avuyile in aksie tydens ’n onlangse toernooi.

Submitted on Fri, 06/19/2020 - 16:18