NWU rector shares lessons learned from #Feesmustfall

Prof Linda du Plessis, waarnemende rektor van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark, het onlangs as hoofspreker by die 2017 PMR-toekennings wat by die Riverside Hotel in Vanderbijlpark gehou is, opgetree.

Prof Du Plessis het die gehoor, wat uit lede van die privaat en openbare sektore in die Sedibeng-besigheidsgemeenskap bestaan het, ʼn kykie gegee na die lesse wat dié kampus uit die #FeesmustFall-beweging geleer het. 

Die beweging – gekenmerk deur protesaksie wat die hoëronderwyssektor in 2016 geruk het en plek-plek tot stilstand gedwing het – was nie uniek aan Suid-Afrika nie. Soortgelyke aksies het ook in die afgelope paar jaar oor die wêreld heen plaasgevind: Londen in 2010; Peru in 2013 en Duitsland in 2014. 

Prof Linda du Plessis

Kommunikasie is belangrik

Prof Du Plessis het aangevoer dat – in die geval van die NWU se kampus in Vanderbijlpark – kommunikasie met verskillende belanghebbers noodsaaklik was en dat kommunikasiekanale soms gewysig moes word om dit optimaal te benut. Hoewel dit belangrik was om te verseker dat die publiek die regte boodskap moes kry, was daar ook baie emosionele onsekerheid onder personeel en studente oor wat besig was om te gebeur. 

Prof Du Plessis meen die belangrikheid van pro-aktiewe kommunikasie in hierdie tipe situasies en veral in die era van sosiale media nie oorbeklemtoon kan word nie. “Kommunikasie is ʼn twee-rigting proses – nie net moes daar gehoor word nie, maar ons moes ook daadwerklik luister. Daar moes geluister word na dit wat gesê is, maar ook na dit wat nié gesê is nie. Dit was belangrik dat bestuur in daardie tyd die dieper kwessies met ʼn oop kop moes aanspreek.” 

Neem aksie

Daar moes egter belangrike besluite geneem word. Die sluiting van die kampus sou verskeie nadele inhou, waaronder die verlies van waardevolle akademiese tyd en die gebrek aan toegang tot rekenaars en studiemateriaal (biblioteek). Op daardie stadium was 16 kampusse landswyd reeds gesluit en was die beweging se nasionale agenda volgens die polisie om soveel moontlik instansies te sluit. Die veiligheid van die personeel en die 2 000 studente wat op die kampus woon, was egter ook op die spel en daar is uiteindelik besluit om die kampus te sluit. 

Nog ʼn les wat bestuur uit die gebeurtenis geleer het, was om oop te wees vir die kundigheid van ander. “Sonder spanwerk was daar nie ʼn weg uit hierdie dilemma nie,” het prof Du Plessis gesê. Die situasie waarin die universiteit homself bevind het, het die geleentheid geskep om ander, nuwe maniere van leer te verken. Die millennium-generasie is van naderby leer ken en studenteleiers is betrek om volhoubare oplossings te identifiseer. “Ons het gesien dat ʼn universiteit, net soos enige ander besigheid, ʼn noodsaaklike deel van die gemeenskap is en ook ʼn rol het om te speel om positiewe verandering mee te bring. Soms verg dit ʼn krisis soos hierdie of ʼn sogenaamde “burning platform” om transformasie en verandering mee te bring,” het Prof Du Plessis opgemerk.  

Ten spyte van al die uitdagings het die universiteit steeds daarin geslaag om die 2016-eindeksamens suksesvol te voltooi, ʼn slaagsyfer van 84% te handhaaf en 15 597 graduandi te lewer.

“Die #FeesmustFall-beweging het ons geleer dat ons die wêreld kan verander as ons ons onmiddellike omgewing verander,” het Prof Du Plessis ter afsluiting gesê Sy het die gehoor uitgedaag om hande te vat en ʼn positiewe impak op die wêreld te maak.

*Die NWU se kampus in Vanderbijlpark het ook met die Diamond Arrow PMR-toekenning in die afdeling vir Hoër Onderwys en Tersiêre Instansies in Sedibeng weggestap.

 

 

 

Submitted on Wed, 04/26/2017 - 12:28