NWU as Pirates-kampioen gekroon

Hulle ken net een pad: vorentoe. Hulle ken net een resultaat: wen. Die Noordwes-Universiteit (NWU) se eerste rugbyspan is op Saterdag 11 Junie in Alberton as die Goue Leeus Rugby Unie se Piratesliga-kampioen gekroon nadat hulle Wits 31–26 verslaan het.

Nie net spog die NWU nou met nog goue ware in hulle trofeëkas nie, maar Burger van der Westhuizen en Leon Boshoff se troepe het hulle onoorwonne rekord, wat uit 2019 kom, verder voortgesit. Hierdie span weet nie hoe om te verloor nie. Die liga bestaan uit spanne soos Wits, Pirates, Raiders, Roodepoort, UJ, Alberton en Wanderers. 

Dit is ʼn merkwaardige rits resultate en hul twee seges vanjaar teenoor Wits was veral stroopsoet. Wits het ʼn bielie van ʼn span en skroom nie om teenstanders kishou te slaan nie. Dit gesê, die NWU het weereens bewys hy’t ʼn sterk ken en word nie sommer planke toe gestuur nie.

Dit was in die tweede helfte duidelik toe Wits ʼn formidabele terugvegpoging geloods het. Die NWU het ietwat gesteier en heelwat punte afgestaan, maar genoegsame durf gewys om die knoop deur te hak. Albei spanne het vier drieë gedruk, wat wys hoe naby dié stryd was.

Maar wag, ons is nie klaar nie. Die tweede span, derde span, o.21’s en o.19’s is ook as hulle onderskeie ligawenners aangewys.

 Dit was inderdaad ʼn skoonskip-stormloop deur die NWU.

Submitted on Tue, 06/21/2022 - 10:25