NWU pak stryd teen GBV aan

Tydens die eerste drie weke van die staat van inperking verlede jaar, was die slagoffers van geslagsgebaseerde geweld (GBV) saam met hulle molesteerders ingeperk, met geen plek om weg te kruip nie.  Gedurende daardie tydperk het die regering se bevelsentrum teen GBV en moord op vroue het alleen meer as 120 000 slagoffers aangeteken. Die minister van polisie, Bheki Cele, het later daardie jaar aangekondig dat Suid-Afrika steeds die verkragtingshoofstad van die wêreld is, met ongeveer 132 insidente per 100 000 mense.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) begryp dat hulle nie in ’n vakuum bestaan nie, en dat die uitdagings wat Suid-Afrikaners regoor die land ervaar, ook hulle personeel en studente kan raak.

Die NWU werk hierdie jaar daaraan om ’n bewustheid te skep oor geslagsgebaseerde geweld en die kwessies wat daarmee verband hou. Ses geleenthede sal van April tot Oktober 2021 aangebied word.

Die geleenthede gaan aandag daaraan skenk om studente, personeel en alumni IN te lig oor die tipes molestering en die taal wat stereotipes skep of dit kan verbreek, om INsig oor die regte van slagoffers te verkry, om verandering deur middel van kuns te INspireer, om ’n selfverdedigingsklas te INisieer, om personeel, studente en alumni IN verwondering te laat wanneer hulle ’n standpunt teen GBV kan inneem, en om personeel, studente en alumni te beÏNvloed om oor hulle GBV-ervaring te praat.

Teenwoordiges sal ná elke geleentheid ’n digitale kenteken as erkenning van bywoning ontvang. Personeel en studente wat al die kentekens bymekaarmaak, sal aan die einde van die veldtog ’n geskenk van die NWU ontvang.

“Ons wil met hierdie veldtog verseker dat die NWU-familie opstaan, beheer neem en ’n verskil maak,” sê Christie Cloete, die senior beampte vir belanghebberverhoudinge by die NWU.

In tye soos hierdie, waar die euwel van geweld teenoor vroue en kinders geweldig hoog is, doen die NWU sy deel om seker te maak dat ons burgers goed ingelig word en dat ons saam teen GBV sal stry.

Kyk na die NWU se bewustheidsveldtogvideo oor geslagsgebaseerde geweld.

 

Submitted on Tue, 04/06/2021 - 11:28