NWU: Opvoeding is hoe ons ons jeug kan laat floreer

Oor tyd heen verwater woorde, en frases verloor hulle betekenis. Wysheid verdwyn in die niet namate herhaling clichés skep. Dit is waar ons ons tans bevind. Luister ons nog wanneer ons “die jeug” en “toekoms” hoor? Die Noordwes-Universiteit (NWU) glo dat hierdie twee woorde – saam – nie net voorop in almal se woordeskat moet wees nie, maar wanneer dit geuiter word, daarna geluister moet word.

Volgens professor Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van die NWU, is dit selde so belangrik as wanneer Jeugdag gevier word.

“Wanneer ons Jeugdag vier, kyk ons terug en onthou, met eerbied, die moed wat die meer as 20 000 leerlinge in Soweto en op ander plekke op 16 Junie 1976 aan die dag gelê het toe hulle teen ’n ernstige onreg van daardie tyd in opstand gekom het. Die effek van hulle protes word vandag steeds gevoel en het ’n noodsaaklike rol gespeel om ons tot die demokrasie te lei wat ons vandag geniet. Tye het verander, en so ook die uitdagings wat ons jeug in die gesig staar. Een hiervan is werkloosheid, en die jongste studie deur Stats SA toon ’n werkloosheidskoers van jongmense van 46,5% vir die eerste kwartaal van 2023, vergeleke met die nasionale gemiddelde van 32,9%. Dit is skokkend en hartseer, en iets moet dringend daaraan gedoen word,” sê prof Tyobeka.

Hy verduidelik voorts: “Ons by die NWU streef daarna om gegradueerdes te produseer wat toegerus is om die geleenthede in die openbare en privaat sektor te benut, en ons moet aanvaar dat opgeleide jongmense ’n waardevolle bate is wat die sosio-ekonomiese ontwikkeling en groei van die land kan waarborg. Ons moet munt slaan uit hulle lewenskragtigheid, hulle geesdrif en hulle vindingrykheid. Hulle staan egter voor ’n magdom uitdagings waardeur hulle moet beur terwyl hulle probeer om hulle drome te verwesenlik en hulle potensiaal te bereik. Die jeug is die bewaarders van ons toekoms, en dit is ons verantwoordelikheid om hulle toe te rus met die gereedskap om suksesvol te wees.”

Dit vorm deel van die NWU se doelwit om te help met die bereiking van die Verenigde Nasies se volhoubare-ontwikkelingsdoelwitte (SDGs), waarvan daar 17 is. Ons fokus veral op SDG 4 (gehalte-onderwys) en SDG 8 (behoorlike werk en ekonomiese groei). Eersgenoemde stel ’n doelwit om inklusiewe en billike gehalte-onderwys en die bevordering van lewenslange leergeleenthede vir almal te verseker, terwyl laasgenoemde die bevordering van volgehoue, inklusiewe en volhoubare ekonomiese groei, volle en produktiewe indiensneming en behoorlike werk vir almal voorstaan.

Opnames toon dat studente van die NWU voorkeur kry in die indiensnemingsektor as gevolg van ’n magdom faktore, soos die universiteit se reputasie vir akademiese uitnemendheid, sy diversiteit en ander eienskappe van gegradueerdes wat hulle laat uitstaan.

“Dit is maar net een manier waarop ons seker maak dat, hoewel geleenthede moontlik beperk kan wees, ons studente die beste moontlike kans staan om nie net te voldoen aan hulle eie verwagtings nie, maar om dit te oorskry,” sê prof Tyobeka.

Die NWU se sorgsaamheidsetiek en verbintenis tot maatskaplike geregtigheid beklemtoon ook die Verenigde Nasies se SDG 10, wat ongelykhede wil verminder. Hoewel die doeltreffende implementering van maatskaplikegeregtigheidsinisiatiewe om volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te verseker ’n kwessie met vele ingewikkeldhede is, is dit ’n uitdaging waarvoor die NWU nie terugdeins nie. Dit word gedoen deur geskiedkundige ongelykhede aan te pak, inklusiwiteit te bevorder en diskriminasie uit te skakel.

En, hoewel dit tye onseker kan voorkom, is dit daardie belangrike woorde van “jeug” en “toekoms” wat ons verenigde doelwit sal dien. Soos prof Tyobeka sê: “Ek wil vir ons jongmense sê: Wees dapper en vol moed, wees altyd simpatiek en deernisvol. Bly betrokke. Glo in julleself. Bewys die neebroers verkeerd en bereik julle volle potensiaal. Die toekoms is in julle hande.”

Prof Bismark Tyobeka

Prof Bismark Tyobeka

Submitted on Thu, 06/15/2023 - 12:11