NWU-ontwerpers wen steeds in topkompetisies

Studente en gegradueerdes van die Grafiese Ontwerp-vakgroep by die Noordwes-Universiteit (NWU) het weer eens by die onlangse internasionale Loerie-toekennings en nasionale Pendoring-toekennings geskitter.

Hulle kenmerkende kreatiwiteit en vaardighede het die beoordelaars se oog gevang, met NWU Grafiese Ontwerp wat ’n oorkoepelende vierde plek op die Pendoring-ranglys onder agt ontwerpinstellings of skole in Suid-Afrika behaal het. Hulle het ook drie silwer toekennings in die Pendorings en ’n brons toekenning in die Loeries huis toe gebring, en het vyf finaliste in albei kompetisies gehad.

Ricardo Liut van die NWU se Grafiese Ontwerp-vakgroep sê hoewel hulle as gevolg van Covid-19-uitdagings nie hierdie jaar so veel projekte in ontwerpkompetisies as in vorige jare ingeskryf het nie, hulle steeds uitstekend gevaar het.

Lof by die Pendorings

Grafiese Ontwerp het ’n trotse geskiedenis van uitnemendheid by die Pendorings, met talle eerste plekke en toekennings wat deur die jare behaal is. Hierdie jaar se Pendoring-toekennings is op 4 November tydens ’n lewendige uitsending aangekondig.

Carlia Janse van Rensburg se The King and Queen of the Spice Route-projek was ’n finalis in die General Design- sowel as die Package Design-kategorie, en sy het silwer toekennings vir albei ontvang. “Ek het my projek vir Robertsons-speserye gekonseptualiseer,” sê sy. “Ek het ’n kaartspeletjie ontwerp wat jou op die ou speseryroetes neem.”

Anchen Badenhorst se Zaan Kultuur-projek was ’n finalis in drie kategorieë. Dit het die kategorie vir Publication Design – Single Element and Student Design ingesluit, wat aan haar die silwer toekenning besorg het. Anchen het vernufsertifikate vir die twee ander kategorieë, naamlik vir illustrasie en vir tipografie in die Student Print, Design and Out of Home (OOH) Crafts-kategorie ontvang.

Anchen sê sy is dankbaar vir die erkenning wat sy van die Pendorings ontvang het. “Dit het my geïnspireer om my kuns deurlopend te verbeter en ek sal voortgaan om vir hierdie kompetisies in te skryf. Dit is ’n wonderlike bevestiging van die uitnemende onderrig wat ons van die NWU se Grafiese Ontwerp-vakgroep en die Fakulteit Geesteswetenskappe ontvang.”

Carlia sê dit was ’n eer om deel van die Pendoring-seremonie te wees. “Ek wil graag my dosent, Marina Herbst, vir haar ondersteuning bedank. “Dit was wonderlik om my finalejaarstudies aan die NWU op so ’n hoë noot af te sluit.”

Loerie-toekennings lewer eerste plekke en talle benoemings op

Die wenners van die Loerie-toekennings in verskillende kategorieë is van 20 tot 22 Oktober tydens die Loerie Creative Week aangekondig. Die Loerie-toekennings gee erkenning aan en beloon die beste werk wat in die handelsmerk-kommunikasiebedryf in Afrika en die Midde-Ooste geproduseer word.

Grafiese ontwerpers van die NWU het die finale rondte in vyf kategorieë in die Loeries se afdeling vir studentetoekennings behaal.

Mardi Prinsloo was ’n finalis in twee kategorieë, naamlik Package Design – Type A, en Print, OOH and Design Crafts for Illustration Type B. Leo Rheeder was ’n finalis in die Digital Media – Type A-kategorie, en Anchen Badenhorst was ’n finalis in die Print, OOH and Design Crafts for Illustration Type B-kategorie. Marina Marais was ook ’n finalis in hierdie kategorie.

Mardi het die brons in die Package Design ─ Type A-kategorie huis toe geneem. “Om ’n Loerie-toekenning te ontvang, is een van my trotsste oomblikke as grafiese ontwerper.  Ek was gelukkig genoeg om wonderlike ondersteuningstelsels te hê: my familie, vriende en my dosent, Jo-Ann Chan, wat my op elke tree van die pad gelei het.  ’n Droom wat ek nooit gedink het moontlik sou wees nie, het uiteindelik waar geword.”

....

Anchen Badenhorst se Zaan Kultuur-projek het vir haar drie benoemings in die Pendoring-toekennings verdien.

....

....

....

Carlia Janse van Rensburg het twee silwer Pendoring-toekennings vir haar projek, The King and Queen of the Spice Route, ontvang.

....

....

Mardi Prinsloo se The Rain Queen-projek vir Zwakala Brewery het aan haar ’n brons toekenning by die Loeries besorg.

 

Submitted on Thu, 11/18/2021 - 11:14