NWU-ontwerpers skitter by Loerie- en Student Gold Pack-toekennings

Om een toekenning te wen, is bewonderenswaardig. Twee is selfs beter. Om dit weer en weer te wen, maak dit merkwaardig.

Studente en gegradueerdes van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Grafiese Ontwerp-vakgroep skitter jaar na jaar by nasionale en internasionale toekenningskompetisies. Hulle toon ongelooflike konsekwentheid en verower deurgaans toekennings vir hulle besondere kreatiwiteit en vaardighede.

Getrou aan hulle tradisie het die NWU-ontwerpers weer hierdie jaar by die internasionale Loerie- en die Student Gold Pack-toekennings uitgeblink.

Die Loerie-toekennings gee erkenning aan uitmuntendheid in die handelsmerk-kommunikasiebedryf in Afrika en die Midde-Ooste. Die graadstudent Tamara Kirsten het ’n goue Loerie-toekenning in die kategorie vir die ontwerp van logo’s en identiteitprogramme (Design for Logo and Identity Programmes) in die studente-afdeling gewen, asook ’n vernufsertifikaat (Craft Certificate) vir illustrasie. Dit was vir haar projek oor die nuwe handelsmerk vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke).  

“As ’n student in grafiese ontwerp eet, slaap en leef jy saam met jou projekte deur vreeslik hard te werk. Om so ’n gesogte toekenning te wen, bevestig vir my dat dit die loopbaan is wat vir my bedoel is. Dit is baie lonend,” sê Tamara.

Gold Pack-toekennings open die deur na die verpakkingsbedryf

Vyf NWU-studente het by die jaarlikse Student Gold Pack-toekennings uitgestaan. Die doel van hierdie toekennings is om studente aan die verpakkingsbedryf bloot te stel. Hulle vaardighede en kreatiwiteit word nie net erken nie, maar hulle verkry ook insig in die rol wat verpakking in die aanbodketting en bemarking van produkte speel.

Die NWU-studente Chané Botha, Ashley du Rand, Mari Kritzinger, Marni Marais en Zeda van der Merwe was onder die finaliste vir die toekennings.

Zeda het die goue trofee vir die Enjoy Your ‘Braai’-volhoubaarheidsprojek ontvang en Marni Marais het die bronstoekenning vir haar Barbie Dreamhouse-verpakking in die kategorie vir die Packaging is Not Trash-projek ontvang. Marni was tweede in hierdie kategorie en derde in die Fit for People, Fit for Purpose-projekkategorie.

“Ek wil graag ons medestudente aanmoedig om hulleself toe te laat om aan te hou groei wanneer hulle aan hulle projekte werk,” sê Zeda. “Moenie dit as ’n mislukking ervaar as iets nie onmiddellik uitwerk nie, leer eerder uit die ervaring en geniet die geleenthede wat dit bring.”

Marni voel baie nederig oor haar prestasies by die toekennings.  “Ek het dit regtig nie verwag nie. Dit het vir my ’n hele nuwe perspektief gegee op wat bereik kan word. Ek is werklik dankbaar vir hierdie geleentheid.”

Dosent Danelle Heenop sê die Grafiese Ontwerp-vakgroep is baie trots op die studente. “Ons is veral opgewonde oor die betrokkenheid van die bedryfspesialiste by ons studente en die vakgroep,” sê sy.

....
....

Tamara Kirsten het die lae van die geskiedenis, biodiversiteit en geologiese strukture van elkeen van die Suid-Afrikaanse nasionale parke in die nuwe handelsmerk van SANParke ondersoek. Die inspirasie vir haar logo-ontwerp is die vroeë stories van die Nguni’s en die skepping van mites waar die geeste van die elemente die aarde geskep het.

....
....

Marni Marais het die Barbie Dreamhouse-verpakking geskep wat gebruik kan word om die vertrekke in Barbie se droomhuis aanmekaar te sit. Die vertrekke kan op mekaar gestapel word of op enige manier geplaas word en deur ingeboude magnete op die kante van die verpakking aan mekaar gekoppel word.

......
......

Zeda van der Merwe het met haar Enjoy your ‘Braai’-projek gefokus op ekovriendelike produkte wat weggegooi moet word. Die eerste produk in die reeks is wegdoenbare borde wat gemaak is van bagasse, wat ’n vesel is wat oorbly nadat die suikersap van suikerriet onttrek is.

Submitted on Thu, 11/09/2023 - 08:14