NWU onder topagt universiteite in Afrika vir omgewingsvolhoubaarheid

Die vernaamste aspek van die hantering van omgewings-, maatskaplike en beheerkwessies is om iets te doen om volhoubare oplossings te vind. Die Noordwes-Universiteit (NWU) is onder die voorste hoëronderwysinstellings in Afrika wat betref hulle reaksie op dwingende omgewings-, maatskaplike en beheerkwessies.

Dit is volgens die jongste ranglys vir volhoubaarheid van die Quacquarelli Symonds-agentskap (QS-agentskap) wat die NWU onder die topagt uit 43 instellings op die vasteland plaas. Die universiteit is onder die topses uit 12 Suid-Afrikaanse universiteite geplaas en is oorkoepelend 458ste uit die 1 403 instellings wat internasionaal vir die ranglys gekwalifiseer het.

Volgens QS moet universiteite vir die QS World University Rankings en die QS Rankings volgens streek, of die QS Rankings volgens vak kwalifiseer om ’n plasing ten opsigte van volhoubaarheid te ontvang.

Die NWU se prestasie op die ranglys is veral indrukwekkend as ’n mens in ag neem dat die getal deelnemende instellings hierdie jaar met 703 toegeneem het. Ten spyte hiervan slaag die universiteit steeds daarin om sy posisie op die ranglys te verbeter.

Dit is die tweede jaar dat QS universiteite vergelyk deur metingsaanwysers vir omgewings- en maatskaplike volhoubaarheid te gebruik. Hulle het die ranglys op 5 Desember gepubliseer.

Lense identifiseer beste prestasies

Die drie prestasielense wat in elkeen van die drie kategorieë toegepas word, is omgewingsimpak, maatskaplike impak en beheer. Elke prestasielens bestaan uit afsonderlike aanwysers wat gebruik word om ’n telling te bereken.

Die NWU se sterkste omgewingsimpaklens is omgewingsnavorsing, met kennisuitruiling die sterkste ten opsigte van maatskaplike impak. Die universiteit het ’n telling van 124 in die beheerkategorie ontvang.

Die omgewingsimpaklens sluit omgewingsnavorsing, omgewingsvolhoubaarheid en omgewingsopvoeding in.

Die lens vir maatskaplike impak dek kennisoordrag, gelykheid, gesondheid en welstand, die impak van opvoeding, en indiensneembaarheid en uitkomste in.

Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van die NWU, sê die QS World University Rankings vir volhoubaarheid beklemtoon die NWU se sterk punte, maar toon ook die gebiede waarop die universiteitsgemeenskap behoort te fokus wanneer dit die teikens wil haal wat die Verenigde Nasies se Volhoubaarheidsdoelwitte* stel.

*Die Verenigde Nasies se 17 volhoubaarheidsdoelwitte is: geen armoede nie; geen honger nie; goeie gesondheid en welstand; gehalte-onderwys; geslagsgelykheid; skoon water en sanitasie; bekostigbare en skoon energie; behoorlike werksgeleenthede en ekonomiese groei; bedryf, innovasie en infrastruktuur; verminderde ongelykhede; volhoubare stede en gemeenskappe; verantwoordelike verbruik en produksie; klimaatoptrede; lewe onder water; lewe op land; vrede, geregtigheid en sterk instellings; en vennootskappe vir die doelwitte.

Submitted on Tue, 12/05/2023 - 12:55