NWU onder die top- plaaslike universiteite in Suid-Afrika op ranglys geplaas

Die Noordwes-Universiteit (NWU) bly onder die top- plaaslike universiteite soos dit duidelik uit die jongste World University Rankings van Times Higher Education (THE) blyk.

Volgens die THE, is die NWU onder die topses universiteite in Suid-Afrika. Die graderingsagentskap het op 12 Oktober die ranglys vir hulle 2023-siklus vrygestel. Dit plaas die NWU in die 601-tot-800-kategorie.  

Vergeleke met verlede jaar het die NWU verbeter ten opsigte van bedryfsinkomste, wat kennisoordrag en internasionale profiel behels en ook die verhouding van internasionale studente en personeel insluit. Ons het ook ten opsigte van internasionale samewerking verbeter.

Die World University Rankings, wat as die mees diverse universiteitsgraderings beskou word, het 1 799 universiteite regoor 104 lande en streke geëvalueer. Dit is die vierde jaar dat die NWU aan hierdie ranglys deelneem.

“Ek twyfel geensins dat ons navorsing en onderrig- en leer-strategieë en -programme ons in ’n goeie posisie plaas om met die beste universiteite in die wêreld mee te ding nie, daarom word ons deurgaans internasionaal hoog gegradeer en op ranglyste geplaas,” sê dr Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier.

Hy sê dat ranglyste goeie maatstawwe is van die impak en relevansie van die NWU vergeleke met dié van ander universiteite, plaaslik en in die buiteland.

Prestasieaanwysers bepaal die plek op ranglyste                          

Die THE University Rankings evalueer navorsingsintensiewe universiteite regoor al hulle kernmissies, wat onderrig, navorsing, aanhalings, internasionale profiel en bedryfsinkomste (kennisoordrag) insluit.

Volgens die THE gebruik hulle 13 noukeurig-gekalibreerde prestasieaanwysers om die omvattendste en mees gebalanseerde vergelykings te verskaf wat deur studente, akademici, universiteitsleiers, die bedryf en regerings vertrou word. Die 13 prestasieaanwysers word in vyf gebiede gegroepeer: aanhalings (30%), navorsing (30%), onderrig (30%), internasionale profiel (7,5%) en bedryfsinkomste (2,5%).

Vir meer inligting oor die 2023 World University Rankings, besoek:  https://www.timeshighereducation.com/world-university-rankings/2023/world-ranking#!/page/0/length/25/sort_by/rank/sort_order/asc/cols/stats

Om meer oor die NWU se indrukwekkende prestasies in die internasionale en nasionale ranglyste te lees, besoek: https://www.nwu.ac.za/rankings

Submitted on Thu, 10/13/2022 - 13:47