Die Noordwes-Universiteit (NWU) se navorsing oor die genetiese data van dwergpapegaaie, oftewel lovebirds (genus Agapornis), is by ’n omvattende internasionale voëlstudie ingesluit. Nege dwergpapegaaispesies kom inheems in Afrika en Madagaskar voor.
Hierdie navorsing het ook gelei tot ’n patent en die moontlike kommersialisering van ’n genoomtoets wat deur die NWU ontwikkel is en wat van groot waarde vir papegaaitelers en bewaringskundiges sal wees.
Die Bird 10 000-konsortium se artikel in die joernaal Nature: Dense sampling of bird diversity increases power of comparative genomics, deur Feng, Stiller, Deng, Armstrong et al., is op 11 November gepubliseer en sluit internasionale bydraes oor verskillende voëlspesies van 150 navorsers van 125 instellings in 24 lande in. Die NWU se bydrae oor die genomika van dwergpapegaaie is op die navorsing van Dr Henriëtte van der Zwan gegrond.
“Dit is ’n groot voorreg dat die navorsing vir my PhD by die studie ingesluit is,” sê Henriëtte. Sy verduidelik dat haar studie, wat in 2015 begin het, die volgorde bepaling van die genoom van die rooiwangparkiet, ’n Suider-Afrikaanse papegaaispesie, behels. Dit het gelei tot die ontwikkeling van ’n toets om bloedverwantskappe te bepaal wat op haar bevindings gebaseer is.
“Hoewel my navorsing ’n kleiner stukkie is van die baie groter B10K voël-konsortiumstudie, glo ek dat die NWU se bydrae van spesiale belang is.” Henriëtte sê dat as ’n mens in gedagte hou dat 40% van alle papegaaispesies as bedreig beskou kan word, sy glo dat die studie ’n bydrae tot die bewaring van papegaaie in die algemeen kan lewer.
“Daar bestaan ’n groot behoefte aan hierdie studie, aangesien daar geen soortgelyke navorsing beskikbaar is nie. Die NWU is die enigste instelling wat spesifiek op die genetika en genomika van die teel van dwergpapegaaie, of die aanhou van dwergpapegaaie as troeteldiere, fokus.”
Henriëtte se studieleier en vakhoof vir Biochemie in die navorsingsfokusarea vir Menslike Metabolomika, Dr Rencia van der Sluis, beaam die belangrikheid van hierdie studie. “Die NWU is tans die leier op die gebied van die genetika van dwergpapegaaie en hierdie navorsing dra verder by tot die begrip van die genomika van dwergpapegaaie .”
Sy sê dat die NWU die eerste was om die de novo-genoom (’n nuwe genoom waar daar nog geen nukleotied verwysingsvolgorde beskikbaar is nie) vir enige van die dwergpapegaaispesies te publiseer, en dit is steeds die enigste genoom wat vir die Agapornis-genus (dwergpapegaai-genus) beskikbaar is.
“Ons het uit die genomiese data ’n genetiesgebaseerde toets vir die verifikasie van die bloedverwantskappe (vaderskapstoets) van dwergpapegaaie ontwikkel. Daarna het ons met die B10K-genoomprojek saamgewerk om deel uit te maak van die groter internasionale studie oor die evolusie van voëls.”
Rencia sowel as Henriëtte glo dat die studie oor die genomika van dwergpapegaaie ook ’n pad na verdere verwante studies is. Hulle sal graag genetiese merkers wil identifiseer wat verband hou met die kleure van die vere, wat van ekonomiese belang vir telers is. Dit is iets wat hulle graag sal wil najaag indien hulle bykomende befondsing kan ontvang.
FR Bezuidenhout van Tegnologie-oordrag en Innovasie-ondersteuning by die NWU sê dat die universiteit ’n voorlopige patent in die Verenigde Koninkryk ingedien het. “Ons is tans besig met onderhandelinge met ’n internasionale maatskappy wat ’n beduidende markteenwoordigheid in die Midde-Ooste en Asië het en wat daarin belangstel om die regte op die uitvinding te lisensieer.”
Hy sê dat dit ’n baie unieke projek is om van deel te wees, aangesien dit ’n nismarksegment vir kommersialisering bied. “Ons is opgewonde oor die kommersiële moontlikhede. Dit beklemtoon net weer hoe NWU-navorsers innoverende navorsingsuitsette lewer met die potensiaal om gekommersialiseer te kan word.”
Om meer oor die Nature B10K-artikel oor voëls en die bydrae van internasionale skrywers te lees, besoek: https://www.nature.com/articles/s41586-020-2873-9 en https://www.sciencedaily.com/releases/2020/11/201111122832.htm
Dr Rencia van der Sluis, vakhoof vir Biochemie in die Menslike Metabolomika-navorsingsfokusarea.
Dr Henriëtte van der Zwan se navorsing oor die genetika van dwergpapegaaie is by die hoogaangeskrewe Nature B10K-voëlstudie ingesluit.
Dwergpapegaaie (foto: Dirk van den Abeele)